Vier oorleef
Brandweermanne en paramedici het soos 'n geoliede masjien saamgewerk om beseerdes na die padoppervlak te bring nadat 'n bakkie teen 'n afgrond afgestort en in 'n rivier beland het.
Drie werknemers van Contrans en ‘n ryloper het ernstige beserings opgedoen toe die bakkie en sleepwa sowat 35km buite Middelburg die pad verlaat het.
Volgens mnr. Paul Mouton (algemene bestuurder van Contrans Meule), was die drie werknemers, mnre. David Mbetsi, Hostel Kgaditse en Meshack Mageala, oppad om meel te gaan aflaai by die Loskop Valley en Loskop Damwal winkels.

Hulle het oppad na die winkels ‘n ryloper, mnr. William Mtsweni, opgelaai.
Na wat verneem word het die 2.7 Kia in ‘n draai duike op die padoppervlak getref, waarop die twee ton dubbelwiel sleepwa begin rondswaai het.
Die bestuurder van die bakkie, mnr. Mbetsi, het beheer oor die voertuig verloor, waarop die bakkie die pad verlaat, teen die afgrond afgeploeg en op sy dak onder in die rivier te lande gekom het.
Die ryloper is naby die afgrond uit die voertuig geslinger. Die drie ander mans is egter in alle rigtings uit die voertuig gegooi terwyl dit na benede gestort het.

Mnr. Mageala het waar hy te lande gekom het, dadelik vir mnr. Mouton gebel.
“Ek wou weet waar is David. Meshack het afgeklouter tot by David en die foon vir hom gehou, maar David het net kreungeluide gemaak,” sê mnr. Mouton.
Die ongeluk het etlike meters voor me. Suzette van Rooyen plaasgevind en sy het bo voor die afgrond gaan staan sodat noodvoertuie kon sien waar die voertuig af is.
Brandweermanne, paramedici en polisielede het hul eie lewens in gevaar gestel om na onder te klouter om na die beseerdes om te sien.

Van die paramedici het noodtoerusting aan hul eie lywe vasgemaak, wat gebruik kon word om beseerdes te stabiliseer.
Mnr. Mageala het met behulp van die noodspanne self tot bo geklouter.
Mnr. Kgaditse kon met sy arms om weerskante van brandweer- en polisiemanne voetjie vir voetjie tot bo gehelp word.
Mnr. Mbetsi was egter baie ernstig beseer en kon glad nie self beweeg nie. Hy was met rukke ook bewusteloos.
‘n Reddingseil is deur die brandweer met toue na onder laat sak, waar mnr. Mbetsi vasgemaak is en teen die steilte deur die noodspanne en omstanders na bo getrek is.
• Mnre. Mageala en Kgaditse is na behandeling uit die hospitaal ontslaan. Mnr. Mbetsi het egter skedelbreuk opgedoen en het rugwerwels gebreek. Hy is dieselfde aand vanaf die Life Midmed Hospitaal oorgeplaas na die Milpark Hospitaal.

• Die ongeluk het omstreeks 9:15 gebeur, maar die bakkie en sleepwa was eers teen 13:00 uit die sloot.
• Mnr. Sam Xaba het op die toneel gestop en aan die joernalis gesê dat hy daagliks die pad gebruik.
Volgens hom was daar sowat drie weke gelede ‘n soortgelyke ongeluk waar ‘n rooi Audi etlike meters verder onder in die rivier beland het.
Hy gee ook die duike in die pad die skuld vir die ongelukke.
