Opvolg: Baksteenrower se spoor van geweld
Slagoffers van die Pongolastraat huisroof waarin al hulle meubels gesteel is, het met ’n skok uitgevind hoe gelukkig hulle eintlik was dat die ma van drie, nie ook verkrag is nie.
Die vrou het een aanvaller tydens ’n uitkenningsparade in Hendrina geïdentifiseer as een van die vyf gewapendes wat haar en haar gesin op 13 Mei in hul huurhuis oorval het.
Die verdagte, wie se naam nie nou al bekendgemaak kan word nie, weens sy moontlike verbintenis met ’n string ander geweldsmisdade, is twee weke terug deur die polisie aangekeer vir die bendeverkragting van ’n vrou in ’n vlaag gewelddadige aanvalle by die kibboets op die Vandyksdriftpad.
Volgens Carina Brits, wat moes toekyk hoe die aanvallers haar man skop en slaan in die teenwoordigheid van hul drie kinders, onderskeidelik 8, 5 en 3-jaar oud, was die rower wat sy uitgeken het die een met die halwe baksteen waarmee haar man, oor die kop geslaan is.
Die ander vier rowers het almal handwapens gehad.
Hy het ook gedurende die roof haar ringe, halssnoer en horlosie afgehaal met die woorde “ek is jammer, ek het ook drie kinders en het die geld nodig”.
Die rowers het hulle kort na 18:00 in hul huis oorval en die kinders gaan wakkerskud sodat hulle kon sien hoe hul ouers vasgebind op die grond vir meer as twee ure getreiter is.
Johan is geskop en geslaan en nie een nie, maar twee afsonderlike wapens, het gestoor teen sy kop.
’n Wapen is ook teen hul huilende seuntjie (5) se kop gedruk.
Kaptein Khanyisile Zwane het bevestig dat die man positief verbind word met die verkagting van die vrou op 27 April by haar huis op Rietfontein.
Die vrou, een van drie in die huis, is soos die Brits egpaar oorval deur gewapende mans tydens ’n huisroof.
Sy is na buite gesleep waar drie rowers haar om die beurt verkrag het.
’n Maand voor die verkragting is ’n inwoner van die Rietfontein kibboets tydens ’n aanval geskiet, en drie weke daarna, is pastoor Douglas Belcher, eienaar van die kibboets, bebloed deur rowers agter gelaat na ’n huisroof.
Die moontlikheid dat die baksteenman ook met dié aanvalle verbind kan word, word ondersoek.
Die verkragtingslagoffer het die man dadelik herken.
Die polisie formuleer nog ’n amptelike klagstaat teen die verdagte wat tans nog net vir verkragting aangekla is.
gerhard@mobserver.co.za
