Was ’n wêreldkenner
’n Doktor wat veral baanbrekerswerk met pluimveevoeding gedoen het, het Saterdag kort na ’n ongeluk op die N4 gesterf.
Dr. Deon Barnard (62) was oppad terug na Krugersdorp ná ’n vakansie in die Kruger Nasionale Wildtuin, toe sy voertuig naby die Fonteinstraat-afrit die pad verlaat verlaat en waarskynlik ’n betonblok getref het.
Hy is met aankoms by die Life Midmed Hospitaal dood verklaar.
Dr. Barnard se skoondogter, Trish, sê hulle weet nog nie wat die ongeluk veroorsaak het nie.
“Hy was ’n baie verantwoordelike bestuurder en het ’n gesonde lewensstyl gevolg. Hy kon moontlik uitgeswaai het vir ’n dier omdat hy so ’n groot diereliefhebber was of moontlik ’n hartaanval of beroerte gekry het. Ons is nog in die duister.”
Dr. Barnard was die Uitvoerende Amptenaar: Voeding in die pluimvee afdeling van Astral Foods Limited.

Hy was verantwoordelik vir die navorsing en ontwikkeling van pluimveevoeding en die evaluasie en kontrolering van die bestanddele.
In ’n persvrystelling deur die Astral Foods Limited maatskappy het mnr. Chris Schutte (Hoof Uitvoerende Beampte van die maatskappy) gesê dat dr. Barnard ’n hoogs gekwalifiseerde en wêreldbekende tegniese spesialis was in pluimveevoeding en -ontwikkeling.
“Hy was ’n deskundige in sy veld en het gedien as sekretaris en tesourier van die Suid-Afrikaanse tak van die Wêreld Pluimvee Wetenskapvereniging vir meer as 30 jaar. Sy dood is ’n tragiese verlies.”
• Dr. Barnard se vrou, Pauline, is sowat sewe maande gelede aan kanker oorlede. Sy het as mediese dokter gepraktiseer onder haar nooiensvan, Van Heerden.
