News

Jack Russell gryp hom aan been

'n Dief moes hom boeglam geskrik het toe hy eers deur 'n Jack Russell aan die been beetgekry is en toe vasgetrek is deur sekuriteitsbeamptes van Mid-Alarms.

Mnr. Frikkie Brits (sekuriteitsbeampte van Mid-Alarms) is gewek deur die geblaf van sy twee Jack Russell hondjies in die kamer.

Hy het die vorige aand nagskof gewerk en het nog gelê en slaap toe die drama begin.

Hy het aanvanklik gedink dit is een van sy vriende wat in die huis (in OR Tambostraat) ingekom het, maar toe niemand by die kamer inkom nie, het hy besef iets is fout.

Die oomblik toe hy by sy kamerdeur uitkom, het hy ‘n booswig gesien wat vanaf die sitkamer se rigting kombuis toe stap. Mnr. Brits het vir hom geskree: “Wat soek jy in my huis!” Waarop die man nonchalant geantwoord het: “Ek soek werk.”

Toe mnr. Brits nader aan hom beweeg, het die booswig op hom afgestorm en ‘n stoeiery het tussen die mans ontstaan. Sy hondjie, Jennifer, het besef daar is fout en sy het die dief aan die enkel beetgekry.

Dit was een te veel vir die booswig en hy het al stoeiend met mnr. Brits en die hond aan die been tot by die buitedeur geworstel. Mnr. Brits het die oorhand begin kry, maar die dief het losgeruk en ‘n baksteen wat in die erf gelê het, beetgekry.

Mnr. Frikkie Brits (sekuriteitsbeampte by Mid Alarms) met sy twee Jack Russell hondjies, Jennifer en PJ, wat hom probeer beskerm het toe 'n inbreker in sy huis was.
Mnr. Frikkie Brits (sekuriteitsbeampte by Mid Alarms) met sy twee Jack Russell hondjies, Jennifer en PJ, wat hom probeer beskerm het toe ‘n inbreker in sy huis was.

 

Mnr. Brits het geen wapen by hom gehad nie en besluit om pad te gee sodat die verdagte hom nie met die baksteen kan aanrand nie. Hy het tot by die huis gehardloop en die veiligheidshek toegedruk.

Die dief het dié geleentheid gebruik om oor die muur te spring en te vlug. Mnr. Brits het egter reeds sy kollegas by Mid Alarms gekontak en hulle het na aanleiding van sy beskrywing die omgewing gefynkam.

Sekuriteitsbeampte Johnny Odendaal het te voet in Walter Sisulustraat en Buitekantstraat gesoek en sy ander kollega, Shane van Rooyen, het met die bakkie in die rigting van die Klein Olifantsrivier gery.

Toe hy in John Magagulastraat stadig afry, soekend na die dief, het personeel van die Korrektiewe Dienste vir hom sleutels (mnr. Brits se karsleutels) gegee wat die verdagte in die Korrektiewe Dienste groentetuin gegooi het.

Mnr. Van Rooyen het vinnig afgery tot naby die laagwaterbruggie, waar hy na aanleiding van die beskrywing die dief gesien het. Hy het hom oorrompel en in die voertuig gelaai.

Mnr. Odendaal is opgelaai en hy het besluit om agterop die bakkie te klim tot by die polisiestasie. Nog ‘n sekuriteitsbeampte, mnr. Johan Luus, het intussen ook by hulle aangesluit.

Oppad polisiestasie toe het die verdagte geweldig met mnr. Van Rooyen in die voertuig begin stoei, die deur oopgepluk, uitgespring en weer begin hardloop.

Hy is egter etlike treë verder weer vasgetrek.

Mnr. Brits sê dat hy klagtes van inbraak, betreding en aanranding met die opset om ernstig te beseer, aanhangig gemaak het.

• Sphiwe Mthethwa (van Arnot) het Woensdag vlugtig in die hof verskyn in verband met die voorval.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button