Hannelie Wessels (30) het al by verskeie rehabilitasiesentrums gaan aanklop om hulp vir haar heroïenverslawing. Sy is ‘n bekende by die Oorwinnaars-groep asook by suster Marietha Petzer.
Ses weke gelede het sy geboorte gegee aan ‘n baba wat skaars 1,6 kg geweeg het. Daar is sprake dat sy verskeie kere tydens haar swangerskap heroïen gebruik het.
Die baba, wat aan onttrekkingsimptome gely het, vandat sy haar eerste asemteug gevat het, is intussen van haar ma weggeneem en by pleegouers geplaas. Sy kan haar baba op sekere tye besoek, mits sy skoon toets vir dwelms.
Me. Wessels is deur ‘n barmhartige Samaritaan ingeneem. Die persoon het versoek om anoniem te bly. Buiten vir ‘n dak oor haar kop het sy ook klere, haar medikasie en kunsgereedskap gekry om haar besig te hou. Sy is gevat om te gaan uiteet en het ‘n naweekvakansie geniet.
Dit was egter nie lank voordat me. Wessels weer van die dwelmwa afgeval het nie.

Sy is na bewering fort met ‘n selfoon wat aan die mense by wie sy gebly het behoort. Dit was ook nie lank nie of die dwelmhandelaars het by die mense kom aanklop en aangedring op die geld wat me. Wessels hulle skuld.
Daar is ‘n diefstalsaak oopgemaak en sy is opgespoor by ‘n huis. Toe die polisie haar gaan haal het, het sy versoek om net gou die badkamer te gebruik voor hulle vertrek.
‘n Ooggetuie het vertel hoe sy me. Wessels in die badkamer gevang het, besig om die oorblywende heroïen wat sy aan haar gehad het, te rook. Sy het aan die persoon erken dat sy reeds vyf sakkies gebruik het.
Me. Wessels het Maandag, 14 Julie, in die Middelburg hof verskyn en sal agter tralies bly tot haar volgende verskyning op 7 Augustus 2014.
