Opvolg: ‘Ek het niks gesteel – was in nood’
Die familie van die man wat beweer dat hulle die regmatige eienaar van die voertuig is waarmee Naas van Heerden rondry, sê hy is onbevoeg om besluite te maak.
Mnr. Van Heerden se familie het met die Middelburg Observer kontak gemaak. Emile Swart het gesê dat sy pa deur ‘n hof onbevoeg verklaar is om sy eie besluite te maak.
“Toe ons hom kom haal het in Middelburg, was hy heeltemal deurmekaar. Sy id boekie en sy bakkie se registrasie papiere was weg.”
Hulle poog nou om ‘n saak van diefstal by die polisie in Gauteng, waar hulle woon, te open.
Naas het in ‘n brief wat aan die koerant gefaks is, beweer dat hy “onregverdig aangeval is”. Hy sê dat hy die voertuig wat aan Phillip Swart (Flippie) behoort het gereeld reggemaak het en daarom aanspraak daarop het.
Hy voer ook aan dat die registrasie papiere en die verandering van eienaarskap dokumente vrywillig aan hom oorhandig is deur mnr. Swart.
“Volgens reëling met Celest (mnr. Swart se vrou) en seun (Emile) gun hulle die bakkie vir my omdat ek hom gehelp het,” skryf Naas in sy brief.
Die familie ontken dit ten sterkste.
Mnr. Swart het onderneem om na konsultasie met sy familie, ‘n saak van voertuigdiefstal te open.
• Die lys van inwoners in Middelburg wat onder Naas se mooipraatjies deurgeloop het word net al hoe langer. ‘n Sakeman wat versoek het om anoniem te bly het vertel dat Naas by sy werk opgedaag het en dit laat blyk het dat hy met sy pa vriende was. Hy het gesê dat sy pa ingestem het om hom met geld te help. Die sakeman het R400 vir hom gegee en eers later, toe hy met sy pa kon praat, uitgevind dat daar geen so vriendskap of so ooreenkoms was nie.
In sy brief skryf Naas “Ek het niks gesteel nie, ek was in die nood.”
