Kar beland op sy
'n Voertuig het op sy sy beland en twee ander voertuie is weerskante toe geslinger tydens 'n ongeluk op die hoeke van Samora Machel- en Vosstraat.
“Jy sal nie weet wat het deur my kop gegaan toe ek hoor my dogter is in daardie ongeluk nie!” het mnr. Chris van Niekerk gesê.
Sy dogter, Maritza, was oppad na die kleuterskool, Einstein Akademie, waar sy skoolhou in Vosstraat, toe die ongeluk gebeur het.
Na wat verneem word, het ‘n bakkie gestaan en wag om regs af te draai in Vosstraat. Mnr. George Stoltz (bestuurder van ‘n Corsa bakkie) het met sy bakkie die ander bakkie verbygesteek. “Ek was in die blinde kol en sy het my nie gesien nie.”
Me. Van Niekerk se Nissan Juke het mnr. Stoltz se bakkie getref, waarop dit teen die Polo Playa van me. Bernadette Maloney vasgeslinger is.
Met die impak het die Juke omgeslaan en op sy sy te lande gekom. Me. Van Niekerk is per ambulans na die Life Midmed Hospitaal afgevoer, waar skanderings gewys het dat sy haar neus gebreek het.
Sy het ook verskeie blou kolle en spierbeserings opgedoen.
Die ander mense in die ongeluk het net skok opgedoen.
• “Ek is só dankbaar Maritza is nie ernstig beseer nie,” het mnr. Van Niekerk gesê. Sy seun, onder almal bekend as “Nando’s” is jare gelede in ‘n ongeluk sodanig beseer dat hy verlam gelaat is.
