Grootdoop voor ongeluk lewe eis
Die voormalige SA uithou motorfiets kampioen, Hendrik Potgieter (31), is Maandag 04 Augustus kort na 14:00 opslag dood toe sy bakkie waarmee hy en sy seuntjie Ronaldo (5), onderweg was na Middelburg, kort na die Mandela-brug op die N4 gerol het.
Hendrik se tragiese dood is egter voorafgegaan deur ’n verhaal van hoop, nadat hy voorverlede naweek sy hart aan die Here gegee het voor ’n stampvol CRC gemeente op Kinross.
Hendrik was so begeester deur sy nuutgevonde Christenskap dat hy hom die Woensdag na sy bekering, laat groot doop het in ’n dam op sy pa se plaas, Zondagsfontein, deur twee vriende, Jaco Brits en Abe de Beer.
Kort voor sy doop het Hendrik egter erge emosionele onderstrominge beleef en Jaco vertel dat hy ’n oproep van Abe uit Upington ontvang het “dat Hendrik in die moeilikheid is en hulle by hom moes uitkom”.
Kort voor lank het die geld skielik net by Abe se rekening begin inrol uit alle oorde en hy het die lang pad Middelburg toe aangepak, waarna hy en Jaco op Donderdag, 24 Julie, vir hom by sy huis hier kom bid het.
“Toe ons besef dat Abe sê reisgeld hierheen deur ’n wonderwerk gedek is, het ons besef God gaan Jerigo se mure om Hendrik laat krummel,” sê Jaco.
Die Sondag nadat die vriende hande gevat het, het Hendrik in die kerk op Kinross opgestaan en eens en finaal in Sy huis aan die deur gaan klop met die versoek om ingelaat te word.
God het gewag vir Hendrik se kneukels aan Sy deur want die Woensdag daarna is Sy verlore skaap, in die teenwoordigheid van ’n pastoor, deur sy vriende skoongewas van sy verlede.
Jaco sê Hendrik het selfs na sy dood “getuienis gelewer” met die honderde Bybelversies wat op die ongelukstoneel uit sy bakkie op omstanders neergereën het.
“Almal is van die toneel af weg met ’n Bybelversie van Hendrik,” het Jaco Woensdag gesê.
“Ons moet jubel en juig want ’n broer is gered, en hy sit nou aan ons Koning se voete,” verduidelik Jaco sy bittersoet gemoedskommelings oor sy vriend wat weg is, maar tog ook gevind is.
“Hy het na sy bekering voluit vir die Here geleef,” sê Jaco, wat self onlangs sy pad uit ’n donker dwelmwoud gevind het na die lig.
Hendrik laat sy vrou Chantelle, seun Ronaldo, dogter Marijanke (2), sy ouers, twee broers en twee susters agter.
Hy word Maandag om 10:25 vanuit die AGS Lighuis gemeente in Aerorand ter aarde bestel.
“Ons het dié vreemde tyd gekies omdat Hendrik altyd maar op die vreemdste tye aan mens se deur sou kom klop, amper soos sy kloppie aan die deur van sy Hemelshuis, ’n week voor sy dood,” sê Jaco.
• Die polisie is op soek na ooggetuies van die botsing weens bewerings dat Hendrik van agter teen ’n taxi in die verbysteek-baan langs die middelman gebots het, nadat die taxi glo skielik tot stilstand gekom het vir passasiers op die middelman. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
•Ronaldo is nie ernstig beseer nie en maak goeie vordering in ’n Witbankse hospitaal, nadat hy uit die bakkie geslinger is.