Man sterf in kettingbotsing
'n Motoris is dood in 'n vier voertuig kettingbotsing op die ou-Witbankpad.
Die man, wat nog deur sy naabestaandes uitgeken moet word, was ‘n passasier in ‘n wit Nissan 1400 bakkie wat in die botsing verwoes is.
Die gru-toneel het omstreeks 12:00 op ‘n drukbesige alternatiewe roete plaasgevind.
Volgens a/o Lize de Witt, het die Nissan bakkie met ‘n blou dubbelkajuit bakkie gebots, waarna beide teen ‘n Nissan Duke en aankomende Uno gebots het.
Beide die bestuurder van die 1400, sowel as ‘n passasier in die blou dubbelkajuit, is ernstig beseer.
Teen druktyd is daar nog op die familie van die oorledene, ‘n eMalahleni inwoner, gewag vir uitkenning.
Drie van die vier betrokkenes in die botsing is volgens die polisie afkomstig van die buurstad en was onderweg daarheen toe die botsing plaasgevind het.
Net die Uno was onderweg na Middelburg en die bestuurder was gelukkig om ernstige beserings vry te spring.
