News

Rooftog in Dennesig

'n Man moes magteloos toekyk hoe 'n rower 'n pistool teen sy kop druk en die wapen span.

“Al het ek ook ‘n wapen aan my sy gehad, sou ek niks kon doen nie, want dit het net te vinnig gebeur,” het die man (wat uit vrees vir sy lewe anoniem wil bly) Maandagoggend kort na die rooftog gesê.

Die 29-jarige man kuier tans by sy ouers in Emily Hobhousestraat (Dennesig) waar hy aansterk na ‘n ongeluk en operasie.

Sy ouers, albei onderwysers, het Maandag omstreeks 07:00 gery en hy het kort voor 08:00 ‘n rukkie in die sitkamer gaan sit. Hy het die bodeur van die kombuisdeur oopgemaak vir vars lug voordat hy sitkamer toe is.

Hulle het die juwele deurgegaan en net dit wat van waarde was gevat.
Hulle het die juwele deurgegaan en net dit wat van waarde was gevat.

Hy was nog besig om vir sy vriendin ‘n boodskap op sy selfoon te tik, toe hy ‘n beweging voor hom sien. Die rower het op hom afgestorm en die pistool teen sy kop gedruk. Die booswig het vir hom in Engels gesê om nie vir hom te kyk nie en het geld geëis.

Met die pistool teen sy kop, het hy die rower in Zoeloe geantwoord wat ook met hom Zoeloe teruggepraat het. Die man het na aanleiding van die beweging om hom (hy het afgekyk soos hy beveel is) agtergekom dat daar nóg twee rowers in die huis is.

Die een wat hom aangehou het met die pistool het sy hande vasgemaak met tekkieveters en hy het gehoor hoe die ander twee rowers in die huis kaste uitgooi.

Minute later het een van die ander twee rowers geld in sy kamer ontdek en die een met die pistool was uiters aggressief omdat hy vroeër vir hom gesê het dat daar nie kontant in die huis is nie en het hom rondgeruk en -gestamp.

Die ander twee rowers het intussen sy pa se handkluis in ‘n kas ontdek en dit met geweld uit die grond uit (waar dit in die kas vasgemonteer was) losgebreek.

Die drie het kort hierna gevlug met ‘n platskerm televisiestel, juwele, sy selfoon en die kontant wat hulle in sy kamer gekry het. Hulle vermis ook ‘n mes wat sy pa nog by die Pumas Rugby-unie gekry het.

Die kamers is deursoek en omgekrap vir geld en juwele.
Die kamers is deursoek en omgekrap vir geld en juwele.

“Alles was binne 10 minute verby,” het die geskokte man gesê. Hy vermoed hul makker het met ‘n voertuig buite gesit en wag, want hy het sekondes nadat hulle by die voordeur uit is (hulle het dit oopgemaak met sleutels in die huis), ‘n voertuig hoor wegtrek. Na aanleiding van die geluier van die voertuig, was dit ‘n klein tipe voertuig.

Nadat alles stil was, het hy die skoenveters om sy hande losgewoel en hulp gaan soek by die bure.

Hy vertel dat die drie rowers in ‘n ander taal as Zoeloe met mekaar gekommunikeer het, want hy kon hulle nie verstaan nie, maar vermoed dit was Sepedi.

Die slagoffer en sy ouers is van mening dat die rowers die huis dopgehou het en waarskynlik gedink het dat daar ‘n huishulp in die huis is.

“‘n Mens kan niks doen nie! Jy is heeltemal magteloos met ‘n pistool teen jou kop, daar is nie tyd om te dink nie. Die goed in die huis kan ‘n mens vervang, maar die feit dat hulle geen respek het vir jou privaatheid nie, is verskriklik.”

Sy ma was baie emosioneel na die gebeure. “‘n Mens kan nie eers in jou eie huis meer ‘n venster of ‘n deur oopmaak nie! Net nou die aand nog het ons gesê dit is so lekker veilig in hierdie area en nou gebeur dit!”

• Hy kon net die rowers se klere sien (omdat hy moes afkyk), maar dit is vir hom duidelik dat hulle klein van bou en jonk was. Hulle het denims en T-hemde gedra.

• Die rowers het van agter in die erf oor die muur gespring om toegang tot die agterdeur te kry. Hulle het ook presies geweet wáár om te loop om nie naby die honde te kom nie.

Back to top button