Rugby-unie moet duisende opdok
Die dispuut tussen die Mpumalanga Rugby-unie en Khanda Seating, oor betaling van 90 Jumbo en 2640 KS-Buffalo plastiek stoele het in die Hooggeregshof gedraai.
Khanda Seating dagvaar die unie vir R286 767 vir die lewering en installasie van die stoele by die voormalige Puma stadion in eMalahleni.
Die unie sê egter hy is nie verantwoordelik vir die betaling nie, die Nkangala Distriksmunisipaliteit is, en derhalwe is die munisipaliteit as derdeparty by die saak gevoeg.
Uniebaas, mnr. Koos Kruger, het tydens die verhoor toegegee dat hy nooit toestemming vir die inwin van die kwotasie by die distriksmunisipaliteit gekry het nie.
Mnr. Kruger het in Mei 2010 die bestelling geplaas onder die briefhoof van die Pumas.
Die stoele is bestel vir die toetswedstryd tussen die Springbokke en Italië wat in Junie 2010 by die stadion gespeel is.
Khanda Seating het getuig dat selfs tydens die geselligheid na afloop van die wedstryd, het mnr. Kruger dit duidelik gemaak dat die unie die volgende dag sou betaal.
Khanda Seating sê mnr. Kruger het nooit gekla dat die rekening verkeerdelik vir die unie gestuur is, en nié die munisipaliteit nie.
Onder kruisondervraging het mnr. Kruger toegegee dat dit maklik sou wees om die bestelling aan te pas om die munisipaliteit te reflekteer, maar dit is nooit gedoen nie.
Hy het getuig dat hy die kwotasie na mnr. Lucky Msoki van die munisipaliteit gestuur het, en ten spyte van die feit dat mnr. Msoki nooit die groen lig gegee het nie, het mnr. Kruger tog die bestelling geplaas.
Tydens die hofsaak kon hy nie verduidelik waarom hy nie aangedring het dat die rekening uitgemaak word aan die munisipaliteit nie en het getuig dat die unie geensins die finansies gehad het vir dié transaksie nie.
Die hof het bevind dat mnr. Kruger, as unie verteenwoordiger, ten alle tye eksklusief met Khanda Seating onderhandel het.
In Augustus 2010 is die rekening oorhandig wat die Pumas ’n addisionele R59 000 sou kos vir kollektering.
Mnr. Kruger het vir ’n week uitstel gevra, maar nooit betaal nie.
Die hof het bevind dat mnr. Kruger nooit die mandaat gehad het om voort te gaan met die bestelling nie.
Mnr. Msoki het getuig dat mnr. Kruger wel toestemming gehad het om kwotasies aan te vra, maar nie om die transaksies te beklink nie.
Die hof het mnr. Kruger afgemaak as ’n “onbevredigende getuie” veral in die lig van ’n vergadering op 17 Maart 2010, waarin die aansoek vir nuwe stoele deur die munisipaliteit verwerp is.
Mnr. Kruger het tydens die vergadering ingestem om Loftus te nader vir tweedehandse stoele, omdat net 20 stoele vir die eregastelosie goedgekeur is as deel van die opgradering van die stadion, waarvoor die munisipaliteit verantwoordelik was.
Die hof het mnr. Kruger se getuienis in geheel verwerp en beveel dat unie die R286 767 aan Khanda Seating betaal plus ’n addisionele 15,5% rente per jaar op die uitstaande bedrag.
Die unie is ook beveel om die koste van die hofgeding te betaal, insluitende die munisipaliteit se regsverteenwoordigers, sowel as die reis en verblyfkostes van die vier munisipale amptenare wat geroep is in die saak. Dit kan nog der duisende rande beloop.
•Op die einde was al die opgraderings pure verniet want die Mpumalanga Rugby-unie het in elk geval later na Nelspruit geskuif.
