Tweeling gearresteer
Minute nadat hulle by die polisiestasie aangekom het om 'n saak te maak teen 'n bekende dwelmgebruiker in die dorp, is 'n tweeling én hul ma gearresteer.
Die Strydom tweeling, Gerhard en Eugene, asook hul ma, Elsa, het Maandagoggend kopskuddend hul storie vertel kort voordat hul almal vir aanranding met die opset om ernstig te beseer, in die hof moes verskyn.
Die klagtes is egter kort voordat hulle moes verskyn teruggetrek, omdat die klaers gesê het hulle was nie die aanranders nie.
Gerhard en Eugene vertel dat hulle Sondagaand van die kerk af gekom het. Op die hoek van Impala- en Bokmakieriestraat (Kanonkop) het twee mans na Eugene (wat bestuur het) se venster aangestap gekom en gevra vir geld.
Volgens Eugene het gesê hy het nie geld nie. “Die oomblik toe ek dit sê, het hy my kar geskop.” Eugene sê die man het hierna ‘n mes uitgepluk en in sy rigting gehou. Eugene sê hy het geskrik en huistoe gejaag.
Tuis het hulle die radiogroep (Kanonkop/Dennesig/Middedorp Radiogroep) in kennis gestel van die voorval en ‘n groot groep radiogroeplede het die omgewing gefynkam. Me. Strydom sê sy en haar man, Gerhard, was reeds in die bed toe die kinders by die huis kom met die nuus. Sy het ook in die bed gebly toe hulle saam met die radiogroep uit is om na die skuldiges te gaan soek.
Volgens mnr. Coen Klopper (voorsitter van die radiogroep) was die Strydom-tweeling heeltyd saam met hom terwyl hulle by die stadion gesoek het na die twee.
Hulle het die jong man (wat die mes op Eugene gerig het) en sy makker by die stadion self opgespoor. “Terwyl radiogroeplede hulle ondervra het, het dwelmnaalde uit die een wat die mes gerig het, se sak geval,” sê mnr. Klopper.
Volgens die Strydom-tweeling was daar ‘n groot groep radiogroeplede tydens die arrestasie op die toneel.
Die polisie het gevra of Eugene ‘n saak wil open, waarop hy bevestigend geantwoord het en saam met mnr. Klopper na die polisiestasie toe is.
By die polisiestasie is daar gevra of daar enige skade op Eugene se voertuig is, waarop hy gesê het hy weet nie, aangesien hy weggejaag het toe die mes op hom gerig is en direk daarna saam met die ander gaan soek het na die verdagtes.
Die voertuig was op daardie stadium nog by die huis en Eugene het sy ma gebel om die kar vir hom polisiestasie toe te bring sodat hulle kon kyk of daar skade op die voertuig is.
‘n Onaangename verrassing het op die Strydoms gewag!
Die man met die mes het skielik vingers na hulle gewys en gesê dat die tweeling hulle aangerand het. Mnr. Klopper het probeer verduidelik dat hy nonsens praat, aangesien die twee jong mans deurentyd saam met hom was.
Die tweeling is gearresteer en aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Op hierdie selfde tydstip het me. Strydom by die polisiestasie aangekom. Die aandag het na háár geskuif, want daar is skielik gesê dat sy hulle ook aangerand het.
Me. Strydom het probeer verduidelik dat sy nou pas uit die bed geklim het, nooit op die toneel was nie en net haar seun se kar polisiestasie toe gebring het. Daar is egter nie vir haar geluister nie.
Sy is dadelik gearresteer en haar vingerafdrukke geneem. “Hulle het nooit my regte eers vir my voorgelees nie! Ek moes my juwele afhaal en vir my man gee, want hulle wou my selle toe vat. Ek het gevra ‘op grond van wat?’ maar niemand het my geantwoord nie.”
Me. Strydom en die tweeling sê die jong man wat aanvanklik gesê het hulle het hom aangerand, het later vir sy makker (in die polisiestasie) gevra: “Jeffrey, is jy seker dis die tannie wat ons aangerand het?”
Me. Strydom het gemeld dat polisielede vir haar gesê het sy moes R500 borg betaal, maar het haar en haar seuns later op eie verantwoordelikheid laat gaan.
• Die Strydoms was omgekrap omdat die bekende jong dwelmgebruiker nie aangekla is nie. “Ja, daar was nie eintlik skade aan my kar nie, maar dit is ongelooflik dat iemand ‘n mes op jou mag rig en glad nie aangekla gaan word nie!” Die dwelmnaalde is polisiestasie toe gevat, maar hulle weet nie of die polisie ‘n aantekenning gemaak het daaroor nie.
• Volgens kapt. Khanyisile Zwane (polisiewoordvoerder) is slegs me. Strydom en haar seuns gearresteer. En daar is net één klaer wat die bewerings maak.
• Kort voor druktyd het twee jong mans by die hof opgedaag en ‘n getekende verklaring gebring dat “nie een van die drie Strydoms aan ons geraak het nie.” Daar is gesê dat ander mense hulle aangerand het. Die saak teen die Strydoms is teruggetrek en het hulle nie in die hof verskyn nie.
• Me. Strydom het aangedui dat sy ‘n klagte van “onregmatige arrestasie” teen die polisie aanhangig gaan maak. Aldrie het aangedui dat hulle regsadvies ingewin het oor ‘n moontlike siviele aksie.
