News

Wind versprei brande

Grasbrande het vanaf Donderdag 28 Augustus om Middelburg gewoed en brandweermanne en boere het skouer teen skouer teen die verterende vure gestry.

Die geweldige winde wat vanaf Donderdag gewaai het, het hul taak bemoeilik.

Donderdagmiddag kort voor etenstyd het inwoners van Kanonkop besef daar is moeilikheid toe dik rookwolke aangedui het dat daar ‘n brand woed in die veld (aan die bokant van Renosterweg).

Vir ‘n geruime tyd is sig op die Stoffbergpad ook erg bemoeilik met die rook.

Mnr. Neels Erichsen se plaas grens aan dié gronde (wat aan die munisipaliteit behoort) en hy het twee spanne gemobiliseer om teen die brand te veg. Sy broer, Vilhelm, asook die brandkarre van Hoërskool Middelburg se plaas, met die hulp van Middies seuns, het die brand teen die pad gekeer, sodat dit nie kon oorspring na die MHS Plaas nie.

Mnr. Erichsen sê die brand het ontstaan by ‘n vullishoop, waar mense onwettig vullis strooi aan die bokant van Dennesig.

Dit was egter nie die einde van die brande die naweek nie. Die brandweer het Maandagoggend bevestig dat hulle vanaf Donderdag by sewe grasbrande in die omgewing moes hulp verleen.

Op die Loskopdampad het boere van verskeie plase gaan help toe daar Vrydag ‘n brand ontstaan het in die berg op die Steenkamps se plaas (Broodboom). Dié vuur op Slaghoekplaas het oor ‘n spruit gespring en na nóg drie plase, waaronder genl. Koos van Zyl se grond Langkloof en die weermagplaas versprei.

Genl. Van Zyl sê al die boere op die buurplase het kom hulp verleen met hul vuurspuite en het dit self onder beheer gebring. Hyself het tot 02:30 vlammende boomstompe geblus om seker te maak dit waai nie oor na die weiding nie.

‘n Paar boere op die Stoffbergpad moes ook met hul vuurspuite en met die hulp van die brandweer veg teen ‘n brand wat by die Soma Pepa informele nedersetting begin het.

Die veldbrand aan die bokant van Kanonkop (munisipale gronde) het sig erg belemmer op die Stoffbergpad.
Die veldbrand aan die bokant van Kanonkop (munisipale gronde) het sig erg belemmer op die Stoffbergpad.

Mnr. Tommie Steele (van die plaas, Wonderhoek, Elandslaagte distrik) vertel dat dié nedersetting aan sy plaas grens en dat die vuur van daardie kant af gekom het. Hy het gelukkig vroeg in die Winterseisoen voorbrande gemaak en die vuur het gou teen die voorbrande uitgebrand, maar van die ander aangrensende boere was nie so gelukkig nie.

Die vuur het deur ‘n groot gedeelte van mnr. Kobie Smal se grond gewoed, asook versprei na ander plase in die Elandslaagte area, waaronder gedeeltes van mnre. Anton Coetzee en mnr. Stanley Bolt se gronde.

Mnre. Malan van der Walt en Renaldo van Zyl het vir ‘n paar sekondes ‘n noue ontkoming gehad, terwyl hulle saam met die ander boere met hul vuurspuite teen die vuur gestry het. Mnr. Van Zyl vertel dat ‘n warrelwind ‘n paar vlamme in hul rigting gedraai het en dat sy hare in die proses geskroei is! Die warrelwind was egter binne sekondes verby en hulle het gelukkig nie enige beserings opgedoen nie.

Boere het tot omstreeks 22:00 saamgewerk om al die vure te blus.

• Mnr. Rudolf Uys (voorsitter van die Brandbeskermingsvereniging) het Maandagoggend ‘n brandverbod afgekondig. Hy het gesê dat enige persoon wat oop vure in die openbaar maak, deur die brandweer met tot R5 000 beboet sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button