News

Video: Voertuie versper ambulans

Woede het oorgekook op die grusame ongelukstoneel waarin vyf mense doodgebrand het op die N4 Woensdag 03 September.

‘n Sesde slagoffer, Bernine Booysen (50), het later in die hospitaal aan haar beserings beswyk, maar kon dit dalk oorleef het, as ‘n konvooi polisievoertuie waaronder ‘n swart Lexus, nié die ambulans waarin sy vervoer was se pad versper het nie.

Die persoon in die Lexus is boonop ‘n vol polisiekolonel wat as kapelaan by die provinsiale hoofkantoor gestasioneer is.

Die Observer kan boonop onthul dat hy in 2001 vir roekelose en nalatige bestuur aangekla is.

Pleidooie van ‘n ER24 ambulansman dat die polisiemotors die ambulans net kans gee om verby te kom, het op dowe ore geval.

Die luukse motor is in die naam van L.H. Moyane, ‘n adjunk direkteurgeneraal van die Mpumalanga departement van onderwys, geregistreer.

Die departement se segsman, mnr. Jasper Zwane, het egter Donderdag bevestig dat me. Moyane die heeldag in vergaderings in Nelspruit was en geensins op die N4 gereis het nie.

Dit is ook ongewoon dat amptenare met polisie begeleiding reis, LUR’re en die premier, word wel vergesel.

Twee polisie offisiere kon voor in die motor waargeneem word.

In reaksie op dié inligting kon mnr. Zwane bevestig dat me. Moyane met ‘n polisiebeampte getroud is en dat hy op die toneel was.

Die Lexus was een van talle polisievoertuie, wat in die spasie wat spesiaal vir die ambulans gemaak is om deur te kom, ingejaag het.

Die ambulans waarin me. Booysen was, moes eindelaaste vir hulle plek maak voordat dit hospitaal toe kon jaag.

Op ‘n video wat deur die Middelburg Observer geneem is, kan duidelik gesien word hoe die polisie se konvooi alle menslikheid by die venster uitgooi, en die enigste oop roete vir die ambulans blokkeer.

Middelburg Observer joernalis, Jana Boshoff, wat die verkeer suksesvol kon reguleer in die afwesigheid van talle verkeersmanne wat in ‘n bussie bly sit het, is amper deur die voorste polisiemotor in die konvooi raakgery.

In die konvooi was ook talle ander hooggeplaastes soos brigadier Jansen Ngobeni, die plaaslike stasievevelvoerder.

Ongeduld het so hoog geloop op die toneel dat die drywer van ‘n BMW wat deur Boshoff gevra is om plek te maak vir die ambulans, bloot reageer het “mense sterf elke dag, hoekom moet ons skuif?”.

Die wanorde sal nou op hoë vlak ondersoek word nadat die DA leier, mnr. Anthony Benadie, die Observer videos Donderdag persoonlik aan die premier, mnr. David Mabuza, die LUR vir sekuriteit mnr. Vusi Shongwe en die provinsiale polisiekommissaris afgelewer het.

Me. Booysen se suster, Maryke, sê dat hulle nie die saak hier gaan laat nie en eise gaan instel teen die SAPD wat vertroud moet wees met die reëls op ongelukstonele waar daar oorlewendes is.

Die polisie se provinsiale kommunikasiehoof, brigadier Selvy Mohlala, wou weet wie dit is wat durf sê me. Booysen is dood omdat die polisie die ambulans se pad versper het.

“Sal daai persoon, hopelik ‘n dokter asseblief opstaan,” het hy gebulder.

Op vraag of hy sou wou hê die polisie sou moes plek maak vir ‘n ambulans waarin ‘n erg beseerde familielid van hóm vervoer word, het hy uitgebars “ek geen nie om nie, ek gee nie om nie”.

Hy wou verder geen kommentaar lewer nie en het die foon in die joernalis se oor neergegooi.

• Lewer kommentaar op dié berig deur die sleutelwoord “Bloulig” na 37940 te sms teen R1,50 per boodskap.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Check Also
Close
Back to top button