Video: Luiperd bekruip hond
Videomateriaal van 'n luiperd wat 'n slapende hondjie bekruip maak tans opslae op sosiale netwerke.

Die Middelburg Observer het in April 2012 berig oor ‘n gesin in die Presidentsrus area, naby Olifants River Lodge, wie se hondjie spoorloos verdwyn het. Daar was tekens dat die hond deur ‘n luiperd gevang is.
Daar is baie mense wat van mening is dat die bejaarde Koreaanse man wat verlede jaar in dieselfde area vermis geraak het, moontlik die slagoffer van ‘n luiperd was.
Inwoners in Kranspoort vakansiedorp het ook al kom vertel hoe hulle die skugter diere op hul agterstoep gesien het.
Bekende model Tanya van Graan se ‘broer’ is verlede week op ‘n plaas in die Kaapmuiden omgewing deur ‘n luiperd aangeval terwyl hy te voet gejag het. Mageka Ntuli het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Dieselfde luiperd het sy mentor, Danie van Graan, ook aangeval toe hy na hom gaan soek het. Mnr. Van Graan het die dier amper op hom doodgeskiet en moes mediese behandeling kry.
Luiperdkenner Gerrie Camacho, sê dat dit nie ongewoon is vir luiperds om honde te vang nie.
Hy sê dat die katte honde dalk as jakkalse, wat deel uitmaak van hul natuurlike prooi, kan sien.
“‘n Luiperd sien ‘n hond, soos ‘n jakkals, as ‘n soft target.”
