Oud kragstasie bestuurder oorlede
'n Voormalige Komatie Kragstasie bestuurder is Maandagmiddag in 'n kop-aan-kop botsing op die Bethalpad oorlede, nadat 'n dubbelkajuit bakkie teen sy Volkswagen Golf gebots het.
Finn Lyder Kramsdahl (82) is kort na die ongeluk oorlede, steeds in sy motor vasgevang. ‘n Trok, wat bykans 20 meter verder tot stilstand gekom het, is ook tydens die ongeluk beskadig.
Die ongeluk het op ‘n sperstreep, teen ‘n hoogte, naby ‘n voerband oor die pad, wat na die kragstasie lei, gebeur.
Johannes Ngozo, wat die vragmotor bestuur het, het Woensdag aan die Middelburg Observer gesê dat die dubbelkajuit bakkie eers teen die wiele van sy trok gebots het. Hy het uitgeswaai, ‘n harde slag gehoor en gesien hoe die bakkie van voor met ‘n ander motor bots.
Die twee insittendes van die bakkie is per ambulans na Middelburg vervoer. Die bakkie behoort aan Vista Mining. Die bestuurder van die besigheid, Vusi Seroka, het gesê dat beide die bestuurder en die passasier intussen uit die hospitaal ontslaan is. Hy wou nie hul name bekend maak nie.
Mnr. Seroka het gesê dat hulle hul eie interne ondersoek sal loods, om te probeer uitvind presies wat tydens die ongeluk gebeur het. Volgens hom was dit tot op hede moeilik om met die bestuurder te praat, omdat hy aan skok gely het en onsamehangend was.
“Ek gaan hierdie ding so professioneel as moontlik hanteer en nie tot enige gevolgtrekkings kom, voordat ek nie met almal gepraat en al die feite gekry het nie,” het mnr. Seroka gesê.
Mnr. Kramsdahl het in Komati woonbuurt gebly na sy aftrede. Hy was die bestuurder by die kragstasie asook ‘n siviele ingenieur vanaf 1972 tot 1989. Sy dogter, Kari van Vuuren, het kort na sy dood op die toneel aangekom en troosteloos langs haar pa se liggaam gehuil.
Sy is bygestaan deur pastoor Callie Joubert, vriende en familielede.
A/o Tommy Visser van die Blinkpan Polisiestasie het bevestig dat ‘n klag van strafbare manslag geopen is. Niemand is egter nog aangekla nie.
“Die ondersoekbeampte sal eers daardie besluit kan neem nadat hy al die verklarings gekry het.”
