News

Vrou sleep man uit dwelmhuis

Die Middelburg Observer is bewus van minstens nog vier huise wat gebruik word as verkooppunt vir dwelmhandelaars en prostitute.

Daar is reeds verlede jaar gewaarsku dat hierdie tipe huise soos paddastoele gaan opskiet, indien huiseienaars nie verantwoordelikheid neem vir die mense aan wie hul eiendom verhuur nie.

Die huis in Rivierstraat is na ‘n berig oor die onwettige aktiwiteite daar, opgeknap. Daar het nuwe huurders ingetrek wat die huis en erf netjies hou.

Een van die vorige inwoners in die huis, Jude Obiano, is tans in aanhouding op dwelmverwante klagtes. Hy sou hierdie week ‘n nuwe borgaansoek bring.

• Die Observer het inligting ontvang dat ‘n huis in Meyerstraat op soortgelyke wyse gebruik word. Die huis is skaars honderd meter van die Middelburg Observer se kantore. Ooggetuies het vertel hoe ‘n vrou met ‘n baba op haar heup, haar man tussen prostitute uit die dwelmhuis gesleep het.

‘n Dwelmhandelaar bly in die huis, vanwaar hy sake doen. Hy verhuur ook kamers aan prostitute wat hul kliënte daarheen neem.

• In nog ‘n geval het huurders ‘n ander huis in Rivierstraat met derduisende rande se skade gelos, toe hulle oor die afgelope naweek deur die huiseienaars beveel is om te trek. Die eienaars van die huis beraam dat daar minstens R100 000 se skade aan die huis aangerig is. Hulle het versoek om anoniem te bly.

Die matte is onherstelbaar beskadig en daar het ‘n brand in een van die kamers uitgebreek, wat die dak, muur en ingeboude kas verwoes het. Die hele huis is deur ‘n onuithoubare reuk gevul as gevolg van ‘n berg vuilgoedsakke wat agter die huis opgehoop het.

Op een van die badkamers se vloere is daar ‘n voetspoor in ontlasting afgedruk. Die egpaar het selfs van hul klere en baba komberse op die wasgoedlyn agtergelos.

‘n Familielid van die jong egpaar, wat in die huis gewoon het, sê dat hulle albei met dwelmverslawing sukkel. Een van hul kinders is deur die welsyn weggeneem. Daar word hard baklei om die ander drie kinders ook in pleegsorg te kry.

“Toe die welsyn die baba kom haal het, het sy in ‘n kot met vrot doeke gelê. Toe hulle haar optel het die wurms in die bed gekrioel. Dit is wat dwelms aan mens doen,” het hy ontstoke gesê.

“Vra enige een van die bure en hulle sal vir jou sê hoeveel mense kamp hier uit om te drink en wat ookal te doen. Maar dan is daar nie geld vir kos nie.”

• Inwoners wat in die Klipstraat omgewing bly, sê dat dit gelyk het asof prostitute ‘n partytjie in die straat hou vroeg die week. ‘n Bekende sakeman, wat nie sy naam genoem wou hê nie, moes sy motor tot stilstand bring, nadat die vroue voor hom ingespring het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button