News

Video: Vliegtuig soek waterlek

'n Mikroligte vliegtuig het Maandagoggend oor die dorp gevlieg en help soek waar die waterlek is wat veroorsaak dat water verlore gaan en sommige inwoners al vir dae sonder water sit.

Mnre. Albun Rule en Ernest Bean het vanaf vroegoggend laag oor die dorp gevlieg, om te kyk of hulle nie die oorsprong van die probleem kan kry nie.

Mnr. Bean sê hulle het vanaf die gholfbaan af stadig oor die dorp gevlieg.

Hulle het drie plekke gekry waar water uitloop, waaronder in die omgewing van Ngwako- en Buitekantstraat (waar daar tans besig is met grondwerke), ‘n stormwaterpyp in John Magagulastraat en ‘n groot nat area by die Eastdene sokkerveld.

Terug op die grond het mnr. Rudolf Bouwer (adjunk direkteur, siviele ingenieursdienste) saam met mnr. Bean die uitgewysde probleemareas besoek en gekyk of dit kan bydra tot die probleem.

Die grondwerke-area blyk nie die oorsaak te wees nie en kort voor druktyd was hulle ook by die stormwaterpyp in John Magagulastraat (onderkant die tuine van die Korrektiewe Dienste) waar water in die Klein Olifantsrivier inloop.

Ook daar het mnr. Bouwer gesê dat die straaltjie water wat daar uitloop, beslis nie die probleem kan veroorsaak nie.

Raadslid Rehana Pilodia het al oor die naweek gevra dat mense wat geraak word deur die probleem, regdeur die Sentrale Sakegebied en Middedorp, moet kyk vir moontlike waterlekke.

Mnr. Bouwer sê mense van die publiek het Saterdag vanaf Bonckerstraat se kant kruis en dwars geloop en soek na ‘n moontlike waterlek, maar hulle kon niks kry nie en spanne het weer Sondag na die sondebok geloop en soek teen die rivier af tot by Oranjestraat, maar sonder sukses.

Iewers in die pyplyn is ‘n waterbreek wat ‘n dik straal water uitstoot.
Omdat dit al só lank, vanaf 2 Februarie, probleme veroorsaak, sal dit beslis op die oppervlak sigbaar wees, sou dit ‘n ondergrondse pyp wees wat water uitstoot.

Die water sal egter na die laagste punt, soos die rivier, afloop.

“‘n Mens sal duidelik die water sien uitborrel.”

Mnr. Bouwer sê dat die Sentrale Sakegebied met water voorsien word vanaf die vliegveld waterreservoir en dat daar vyf miljoen liter water per dag na die reservoir gepomp word.

“Iewers gaan daar egter water verlore!”

In die verlede het hulle al vir vier maande die voorsieningslyn vanaf Mandelastraat af gebruik, “maar as ons daardie klep oopmaak, is daar steeds geen reaksie nie!

Dit voel of ons water in ‘n bodemlose put inpomp!”

Hulle het verlede week selfs brandkraan analises gedoen om te kyk waar die druk swak kan wees, “maar ons het niks wys geword nie.”

• Die brandweer het twee keer per dag die Life Midmed Hospitaal se noodwatertenk volgemaak, asook water voorsien vir die Wonderpark Spar area.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button