News

Video: Tornado knak bome soos vuurhoutjies

'n Tornado het soos 'n reuse slang oor drie plase geseil, huise se dakke afgeruk, plaaswerkers se huise platgevee en bome soos vuurhoutjies geknak.

Die tornado is die eerste keer opgemerk op die plaas Berg-en-Dal (buite Belfast op die Machadodorppad), vanwaar die tonnel in die rigting van plase by Dalmanutha en Driefontein deurbeweeg het en ‘n verwoestingspad van vier kilometer, 200m breed, gelos het.

‘n Span van die DA moes Sondag inderhaas ‘n tydelike tent opslaan vir die mense wat dak- en huisloos was en mense het op die plase opgedaag om te help met herstelwerk.

Die chaos het Saterdagaand omstreeks 18:30 begin met ‘n geweldige haelstorm en onnatuurlike sterk wind.

Me. Liesbet Skosana se huis was die eerste wat in die pad van die tornado was en haar huis se dak is soos ‘n speelding afgeruk en eenkant toe gesmyt.

Van die bure, sowat 150m verder, was vreesbevange, maar die tornado het verby hulle gespoed en oor mnr. Sunnyboy Mthimunye se huis getrek.

Ook sy huis se dak is afgewaai, kragkabels is beskadig en bome is ontwortel.

Vanaf mnr. Mthimunye se huis het die draaiende massa oorbeweeg in die rigting van Driefonteinplaas waar die plaasopstalle en die Paddocks gastehuis bykans verwoes is.

Die gastehuis se dak is afgeruk en vensters gebreek en bome wat ontwortel is, het op plaasimplimente en ‘n trok geval. Mnr. Frik van Heerden, van Middelburg, was nie tuis nie, maar is kort daarna van die verwoesting in kennis gestel.

Op hierdie stadium het mnr. Johannes Skosana die dreuning gehoor en na buite gekyk. Hy het besef sy huis gaan opgeslurp word in die tornado-tonnel en het na buite gevlug met sy hondjie onder sy arm.

Hy het armbeserings opgedoen toe hy die deur oopruk om uit te gaan. Hy moes in afgryse toekyk hoe die natuurmonster sy huis platvee en alles verkrummel tot ‘n hopie sement en bakstene.

Me. Tracey Peer, een van die bure wat ‘n tyddeel in die omgewing het, het die dreuning gehoor en by haar venster uitgekyk.

“Die tornado het soos ‘n reuse slang reg langs ons huis verbygeseil en ek kon sien hoe bome knak en ontwortel word tot by die Oosthuizen’s se plaas net ‘n paar honderd meter verder. Die slang is daarna regdeur hul huis en die bome om hul huis!”

Me. Oosthuizen sê hulle het die dreuning van die weer gehoor en besef hael is oppad. Die gesin het onder hul ou reuse akkerboom gesit en besluit om hul 4×4 voertuig onder die boom in te trek vir beskerming teen die hael.

Minute later het die tornado hulle getref. ‘n Stuk van die dak is afgeruk, stukke glas het in alle rigtings gespat toe die vensters breek en die akkerboom, waar hulle kort tevore gesit het, is in twee geknak en het op die voertuig te lande gekom (die voertuig is ‘n totale wrak).

“Dit was verskriklik! Stukke van die huis se dak het ‘n kilometer verder te lande gekom, dakplate en gemors het deur die lug gevlieg en hael het horisontaal neergekom.

Twee mense het aan ‘n deur in die huis gehang om dit toe te maak toe die tornado die vensters in stukke laat spat het.

Dit was vreesaanjaend om dit alles te sien en te beleef.

Ons dank net die Vader dat ons almal lewend daaruit gekom het!”

Net so vinnig as wat die tornado sy tonnelsnoet op die aarde neergegooi het, net so vinnig het hy weer verdwyn.

Volgens al die slagoffers het die verwoesting sowat twee minute geduur.
DA raadslid, John Stevens, was Sondag oppad kerk toe, toe hy van die tornado verneem.

“Weet jy wat is ongelooflik, daar is veronderstel om ‘n noodplan te wees wanneer ‘n ramp die omgewing tref, maar ek kon nêrens noodnommers kry nie.”

• Ander boere en plaaswerkers was teen Woensdag nog besig om te help met opruimings- en herstelwerk. “Arme Johannes se huis lyk soos ‘n rommelhoop!” Eskom het ook reeds kragkabels herstel.

Rdl. Stevens het vroeg dié week laat weet dat hulle nog sinkplate en ander boumateriaal benodig om die werkers se huise te herbou en te herstel.

• Me. Oosthuizen het genoem dat mense wat al jare in die omgewing bly gemeld het dat hulle “nog nooit so iets gesien het nie.”

• Me. Peer het ‘n video geneem in haar huis tydens die storm, waar ‘n mens die geweldige slae van die hael op hul huis se dak kan hoor. Die oomblik toe sy haar selfoon by die venster uithou, het sy ‘n stukkie van die tornado, oppad na die Oosthuizen’s se plaas, afgeneem.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button