Rooies Bond help Middies-rugbyspeler
Hoërskool Middelburg en die Rooies Bond skenk elk R10 000 vir die mediese uitgawes van rugbyspelers Nathan Jansen van Vuuren en Blake Faber.
Hulle is dalk aartsvyande wanneer dit derbyweek in Middelburg is, maar wanneer die nood druk, staan Hoërskool Middelburg en HTS Middelburg skouer aan skouer.
Nadat Nathan Jansen van Vuuren vroeër vanjaar ’n ernstige kniebesering opgedoen het tydens ’n wedstryd tussen die Puma- en Valke-spanne by die Cravenweek, was Hoërskool Middelburg een van die eerstes wat aangebied het om tot sy mediese uitgawes by te dra. Die skool het R10 000 geskenk.
Nou het die Rooies Bond besluit om ook R10 000 by te dra vir die mediese behandeling van Middies se Blake Faber, wat sy knie tydens ’n rugbyoefening beseer het.
Blake moes ’n operasie ondergaan om sy ligamente en meniskus te herstel.
Altesaam R100 000 is nodig om die koste van die knie-operasie te dek.
“Dit is ’n groot bedrag, en ons kan dit nie alleen bekostig nie. Daarom reik ons uit na almal wat dalk bereid is om ons te help,” het sy pa, Chris, gesê.
Tot dusver is daar egter min bydraes tot die BackaBuddy-fonds wat vir Blake begin is, ontvang.