News

Middelburg se regsberoep bring hulde aan jarelange prokureur Corrie Coetzee 

Waar ontslape Middelburgse regsgeleerde nou is, gaan al sy gholfhoue reguit gat toe.

Daar is gister, 28 Oktober, tydens ’n spesiale hofsitting in die Middelburg Landdroshof afskeid geneem van Corrie Coetzee (77), die dorp se oudste praktiserende prokureur. Hy is op 16 Oktober ná ’n stryd teen kanker in Scottburgh aan die Natalse Suidkus oorlede.Sy kollegas in die regsberoep het tydens ’n formele sitting hulde gebring aan sy bydrae tot die professie. Volgens ’n skrywe van die Middelburg Regspraktisynsvereniging is hy eervol van die rol van praktiserende prokureurs verwyder.

André Brandmuller van Brandmullers Prokureurs, waar Coetzee die laaste drie jaar van sy loopbaan gepraktiseer het, het gesê sy kollega sal onthou word vir sy sin vir humor en lojaliteit aan die regsberoep en sy kollegas. Cornelius Johannes Coetzee is op 8 September 1949 gebore. Hy het ’n B Iuris-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en is op 9 Junie 1975 as prokureur en op 19 Maart 1991 as aktebesorger toegelaat. Hy het in 1979 na Middelburg verhuis.

Coetzee het by Birman en Boshoff aangesluit, waar hy saam met van Middelburg se bekende regsfigure, onder wie Jaap van Deventer en Johan Boshoff, gewerk het. Hy het later by Jan Rousseau en wyle Hein Brauckmann aangesluit en was daarna ’n vennoot van Danie Schutte. Volgens Brandmuller was Coetzee ’n lid van die raad van die Mpumalanga Prokureursvereniging.

Op 28 Augustus 2010 het die Mpumalanga Prokureursorde hom erkenning gegee vir sy bydrae tot die prokureursprofessie.
Coetzee het later in Scottburgh afgetree, waar hy ’n waterwinkel bedryf het. Twee jaar later het hy na Middelburg teruggekeer om weer as konsultant by Birman en Boshoff aan te sluit. Hy het saam met Gideon du Plessis gewerk voordat hy in 2023 by Brandmullers aangesluit het. Daar het hy sy beroep tot met sy afsterwe beoefen.

https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7702064726439742741

’n Lewe vol uitdagings

“Hy was nie net ’n prokureur nie, maar altyd gereed vir ’n uitdaging en betrokke by die gemeenskap,” het Brandmuller gesê.

Coetzee se belangstellings het veel verder as die reg gestrek. Hy het krieket vir die prokureurs gespeel tydens die jaarlikse wedstryde teen die aanklaers, muurbal op provinsiale vlak beoefen en selfs in sy sewentigerjare mededingend gebly. Hy het ook ’n Comrades-marathon voltooi, was ’n geesdriftige gholfspeler en het op die beheerliggaam van Middelburg Hoërskool gedien.

Mnr. André Brandmuller van Brandmullers Prokureurs. FOTO: Verskaf.

Geloof tot die einde

Brandmuller het Coetzee beskryf as iemand wat kollegas, personeel, kliënte en hofpersoneel altyd met die grootste respek behandel het. “Hy was altyd vriendelik en het ’n warm glimlag gehad. Sy positiewe gesindheid en respek vir die reg is ’n voorbeeld waarna ons almal kan streef.”

Volgens Brandmuller het Coetzee se geloof hom veral tydens die laaste maande van sy lewe staande gehou.
“Die een ding wat vir my altyd uitgestaan het, en wat al hoe duideliker geword het namate hy die afgelope vyf maande van sy lewe teen kanker gestry het, is dat Corrie stewig in sy geloof gewortel was. Sy geloof is wat gemaak het wie hy was.”

Brandmuller het vertel hoe hy Coetzee se gesondheid oor dié tyd sien agteruitgaan het. Toe hy hom sewe dae voor sy dood in die hospitaal besoek het, het Coetzee net 50 kg geweeg. “Tog het hy nooit sy glimlag of sy wilskrag verloor nie, tot aan die einde van sy lewe, want hy het geweet,” het Brandmuller gesê voordat hy Jakobus 1:12 aangehaal het: “Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. Wanneer hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinnaar die lewe ontvang, die kroon wat die Here belowe aan dié wat Hom liefhet.”

Prokureur Theo Pistorius, wat Coetzee 30 jaar lank geken het, het hom as vriendelik, toegewyd, lojaal en bekwaam beskryf. “Hy was ’n aangename man; ons gaan hom mis,” het hy gesê. Pistorius het ook verskeie staaltjies oor sy oud-kollega se lewe gedeel en met humor hulde gebring aan sy liefde vir die reg en sport.

“Waar Corrie vandag is, het hy geen bekommernisse meer oor kennisgewings van belet, eise wat verjaar of nuwe reëls nie. Waar hy nou is, gaan al sy gholfhoue reguit gat toe, hy hardloop 10 Comrades-wedlope op ’n dag sonder om moeg te word, en dit gaan met hom goed.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button