Waar gaan al die geld heen?
Inwoners wat gebruik maak van grondpaaie in die Belfast distrik moet hulle staal, om nog lank so aan te sukkel.
Ten spyte van ‘n onlangse aankondiging dat miljoene rande in projekte in die Departement van Openbare Werke ingeploeg gaan word, blyk dit onwaarskynlik dat dit sal eindig waar dit moet.
“Ek nooi enige iemand van die paaie departement om by my te kom ontbyt eet, hulle moet net self hier uitkom,” sê mnr. Frik du Toit.
Die grondpad wat verby sy plaas, Bospoort, in die Wonderfontein omgewing loop, is deur wind en weer en weinig onderhoud tot ‘n kronkelende tweespoor paadjie verander, waar daar kort-kort gekoes moet word vir klippe wat lankal nie meer toegeskraap kan word nie.
Dreineringspype wat jare laas ontblok is, veroorsaak dat die pad elke reënseisoen net vererger. Baie daarvan steek bo die grondpad uit wat skraap ‘n nuttelose taak maak.
“Mens kan amper nie meer hier ry sonder ‘n 4×4 nie. Die padkamp in Belfast het lank terug 15 skrapers gehad. Daar staan nou net vyf en hulle is stukkend.”
Die grondpad wat vanaf die Laersdrift polisiestasie langs die R555 tot by Dullstroom kronkel, vertel min of meer dieselfde verhaal.
Boere en vakansieplase sê dat nie net hulle nie, maar ook skoolkinders deur die onbegaanbare pad benadeel word.
Die skoolbus sit kort-kort vas, wat beteken dat skoolkinders nie betyds by die skool is nie. Aflewerings soos diesel en graan kan nie gedoen word nie en slagoffers wat in die modder vasval, moet eers uitgetrek word, voordat daar iemand anders kan verby.
Besoekers aan verskeie van die spog vakansieplase is huiwerig om terug te keer as hulle eers die pad gery het.
“Daar is net nie geld nie,” sê ‘n betroubare bron by die Departement Openbare Werke.
Met die finansiële jaar wat einde toe staan, gaan dinge ook nie vinnig verbeter nie. Die bietjie geld wat oor is word opgebruik en dan word daar reggemaak vir maande se wag, om goedkeuring vir die nuwe jaar se begroting.
“Hulle hou aan sê daar is nie geld nie, maar waar gaan al die geld heen?” vra mnr. Du Toit. Hy moes intussen sy gastehuis op die plaas, wat ‘n welkome inkomste verskaf het, sluit as gevolg van die onbegaanbare pad.
“Niemand wil meer hierheen kom nie.”
