Hierdie is My Beurt – Jana Boshoff
"The only thing necessary for the triumph of evil is for good men to do nothing."

‘n Holrug geryde sê-ding maar steeds een van my gunstelinge, asook die frase wat lei: “War does not determine who is right, only who is left.”
Maar terug na die kwessie op my hart – die een van goeie mense wat maar net handjies gevou moet sit vir boosheid om te floreer.
Wanneer jy ‘n joernalis is, raak jy gewoond daaraan dat mense jou gaan kruisig.
Partymaal met rede en partymaal sommer maar net omdat hulle nie seker is vir wie om kwaad te wees nie. Dan is die minder gewilde gesegde “Kill the messenger” ter sprake.
Skryf al vir maande oor Rassie en Janetta. Die egpaar wat in die Datsun gebly het. Mense kom kla. Hulle is vuil, hulle raas. Oral word hulle verjaag.
Ek moet elke keer die kar gaan afneem. Elke keer is daar woorde tussen my en Rassie, want hy soek my nie daar nie.
Op ‘n stadium skree hy vir my “Fok off! Jy pla ons!” en ek kap terug “Jy pla my net soveel! Elke keer as jy van een plek na die ander trek moet ek dit waarmee ek besig is los om ‘n foto van jou kar te kom neem!”
Niemand het ‘n oplossing nie. Dan is al wat oorbly om die spreekwoordelike druppende kraan te wees waaroor my redakteur dikwels preek.
Met die Dorp van die Jaar partytjie kom dinge tot ‘n keerpunt. Mens kan mos nou nie die krok by die ingang laat staan terwyl die Who’s Who daar verby ry nie. Wat sal hulle dink? Rassie en Janetta word soos diere uit hul kar gerook.
Ek staan met my kamera en neem die hele spul af. Lag saam toe die span mans wat die geel Datsun omsingel uitmekaar spat toe die kar se deur oopgaan…en ek huil saam toe Rassie en Janetta in ‘n bewende bondeltjie langs die betonheining gaan sit.
Tree as bemiddelaar op, praat met verkeer, dan met Rassie, probeer reël oor die kar. Hardloop saam weg toe ek die vuurwapen sien.
My redakteur kom daar aan. Hy stap na die egpaar, ek volg ‘n paar meter agter hom, sorg dat hy tussen my en Rassie se wapen bly.
Terwyl hy vir kos en koeldrank reël, pleit ek by hulle oor die vuurwapen. Rassie wys dit vir my. Dis toe al die tyd ‘n gaspistool.
Verduidelik dat ek alles wat gebeur opneem. Rassie en Janetta huil. Gaan slaap daardie aand dankbaar in my bed. Mens aanvaar dinge vanselfsprekend, tot jy sien wat ek soms sien.
Toe die berig op die internet verskyn, spring al die Facebook trolle op aandag.
Mense het met gebedjies kommentaar gelewer ‘Asseblief Here help tog die mense.’ So al asof hulle die gedeelte in die Bybel mis gelees het, waar staan dat ons Jesus se hande en voete is.
Om agter ‘n rekenaar te sit en op die spreekwoordelike straathoek te bid, gaan niks meer doen as om jou eie gewete te sus nie. Want jy ‘gee om’ waar almal dit kan sien.
Daar is klippe gegooi: ‘Ek sal nooit weer die Observer koop nie! Floreer op ander mense se trauma,’ ‘Swak beriggewing,’ ‘Julle verlekker julle in ander se swaarky!’ ‘Iemand het gedink: kom ons tape die gebeure. Videograaf is lekke tappit.’
Nou hierdie is My Beurt. Ek is ‘n joernalis. My werk is om dinge wat gebeur af te neem en oor te vertel met woorde, foto’s en videos.
Sodat ander mense dit kan sien, en hopelik meer daaroor doen as om net kommentaar te lewer. Sodat mense weet van ander se seer en swaarkry, want op Facebook sit ons selfies van vriende en skemerkelkies en vakansies, wil mos almal oortuig dat die lewe fabulous is.
Sodat daar bewyse is wat later deur prokureurs en families en staatsaanklaers aangevra kan word om in hofsake, siviele eise en in familie-albums gebruik te word.
As jy as joernalis persoonlik verantwoordelikheid moes vat vir elke hawelose, elke verlore hond, elke tragedie wat voor jou afspeel, elke kind wat doodgaan, elke mens wat in ‘n kar voor jou dood brand, elke familie wat voor jou huil en elke dwelmverslaafde wat soos ‘n dier leef, was jy lankal in ‘n gestig opgesluit en dan sou ‘n ander ‘gevoellose’ joernalis jou plek inneem.
Het naar geword toe ek die eerste keer been deur vleis sien steek en hoor hoe iemand gil van die pyn en toe ek die eerste keer beleef hoe iemand wat al ‘n paar dae lank dood is ruik.
Maar toe ontwikkel my maag staalwande. Leer om agter ‘n sonbril te huil by ‘n begrafnis of saggies in die bad by die huis.
Leer om nie persoonlik betrokke te raak en in die proses te vergeet om die storie op video of met foto’s vas te vang nie.
Soms sluk ek die hartseer af met ‘n glas rooiwyn.
Daar pomp ink deur my are. My vel is dik. Maar my hart is nie koud nie. Met my pen en kamera probeer ek ‘n storie vertel sodat dit mense aanraak soos wat dit my aanraak.
Sit ‘n opvolgberig in oor hoe Rassie en Janetta deur hul kar sif om waardevolle items bymekaar te krap. Vra as daar iemand is wat hulp wil aanbied, moet hulle bel of vir my ‘n e-pos stuur.
My inbox is leeg, die bystandfoon stil. Van die honderde wat kommentaar gelewer het is daar niemand wat na vore kom nie.
Niemand! Ons het mos gebid en ons misnoeë op Facebook uitgespreek, iemand anders sal sekerlik help?
Jy, wat ander mense se tragiese stories op sosiale media opslurp, en dan vererg kommentaar lewer oor onreg en rassisme.
Jy is niks beter as ek nie. Jy is een van die ‘goeie’ mense wat arms gevou sit, vingers op die sleutelbord, en kyk hoe boosheid floreer.
My Beurt: Yolandi van den Berg
