Bakkie in Wadeville gesteel
'n Inwoner se bakkie is Dinsdagoggend voor 'n besigheid in Wadeville (Gauteng) gesteel.
Mnr. Willem van der Berg (produkbestuurder) doen werk regdeur die land en het voor die besigheid gestop. Toe hy uitkom, was sy 2013 3L Hilux dubbelkajuit bakkie (registrasienommer HPX171MP) skoonveld.
“Ek het teruggestap by die besigheid in en is wéér na buite om seker te maak my oë bedrieg my nie, maar hy wás weg!”
Mnr. Van der Berg sê die oomblik toe hulle die Wadeville polisie bel, is daar vir hulle gesê dat die voertuig reeds as gesteel aangemeld is, maar hy het hulle verseker dat dit nie so is nie.
By nadere ondersoek is gevind dat daar net minute voor mnr. Van der Berg se bakkie gesteel is, ‘n soortgelyke bakkie in die omgewing gesteel is.
“Ons het gehoor hulle haal die bakkie se bakwerk af en sit dan ‘n Quantum bussie se bakwerk op die onderstel, waarmee hulle dan oor die grens gaan!”
Die waarde van die bakkie word op sowat R340 000 geskat. Sy beursie met al sy bank- en persoonlike kaarte was ook in die bakkie.
Mnr. Van der Berg sê hy hoop die ongeluk wat hulle so ry die afgelope paar maande, is nou verby.
• Vroeër vanjaar is sy skootrekenaar by ‘n besigheid in die Kaap gesteel toe hy werk daar gaan doen het.
• Op 20 September was hy in ‘n motorongeluk saam met sy pa, Willem, broer Lucas en vriend Nico Pieterse, op die N4 tussen Bronkhorstspruit en eMalahleni.
‘n Motoris het ‘n U-draai gemaak op die N4, waarop hulle die voertuig met Lucas se Fortuner getref het. Die mans het almal snywonde en spierbeserings opgedoen en Lucas se Fortuner is afgeskryf.
• “My pa moes ook ‘n knievervanging ondergaan en was op ‘n stadium in die intensiewe eenheid.”

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!
