Video: Só kan jy jouself beveilig
Die Middelburg polisie waarsku motoriste om ekstra versigtig te wees wanneer hulle stil staan by verkeersligte.

Daar is in die laaste week ’n skerp toename in diefstal uit motorvoertuie, waar veral mense wat stop by rooi verkeersligte in die middedorp geteiken word.
Kaptein Khanyisile Zwane, plaaslike polisiewoordvoerder, het gesê dat verskeie slagoffers in hul verklarings vertel dat hulle onder ’n vroulike grypdief deurgeloop het.
Die vrou werk saam met ’n man en help om motoriste se aandag af te trek of om hulle te oortuig dat daar iets met hul motors verkeerd is.
•Maak seker dat jou motor gesluit is as jy êrens heen ry.
•Wees bewus van mense wat om jou voertuig beweeg terwyl jy wag vir die verkeerslig om groen te word.
•Moenie toelaat dat enige iemand, man of vrou, jou oortuig om jou deur oop te maak, omdat jy dink dat daar iets met jou motor of jou band verkeerd is nie.
•As jy onraad vermoed ry tot by die naaste veilige plek, soos ’n vulstasie, voordat jy ondersoek instel.
Adjudant offisier Lize de Witt het vir die Middelburg Observer verduidelik hoe motoriste hul voertuie kan beveilig teen diewe wat van afstandbeheerders gebruik maak om jou motor se sluitsein te blok, of wat agter jou motor skuil en ongemerk een van jou deure oopmaak, voordat jy jou voertuig sluit.
Wenke soos om aan al jou deure te voel, en om agter om jou motor te loop terwyl jy dit doen sodat niemand daar kan wegkruip nie, word deur a.o. De Witt verduidelik.
