NewsUpdate

Opvolg: Vrou sê sy doen dit vir meisie op sypaadjie

Sy vertel haar verhaal "vir daardie meisie op die sypaadjie wat nie geweet het wat met haar gebeur het nie."

Wat sy onthou is dat kapt. Awie Geldenhuys daardie aand in Desember 2011 haar rok oor haar kop getrek het en dat sy in haar bedwelmde toestand ‘nee’ gesê het.

“Hy het my rok oor my kop getrek. Daarna kan ek niks onthou nie,” sê een van vele vroue wat die week vertel het van beweerde onsedelike dade.

Die polisie kon in 2012 nie die twee vroue weer opspoor wat klagtes van onsedelike aanranding en verkragting teen kapt. Geldenhuys gelê het nie.

www.mobserver.co.za het hulle opgespoor.

Sy en haar vriendin het kapt. Geldenhuys by ‘n kuierplek in Nelspruit (Stables) ontmoet.

“Sy presiese woorde aan ons was dat hy ‘bat vir die ander span’, wat beteken dat hy homoseksueel is.” Ook dat hy ‘n polisieman is.

Die twee vroue sê hulle het hom dadelik vertrou en die aand verder saam met hom gekuier.

Sy het bestuur op pad huistoe en is deur ‘n verkeerskonstabel afgetrek. “Ek het geweet ek het nie te veel gedrink nie, maar was tog bang toe ek in die pypie moes blaas.”

Kapt. Geldenhuys het op die toneel gestop en vir die beampte gesê dat hulle sy informante is en hy sal sorg dat hulle veilig by die huis kom.

Een van die vroue het by hom in sy voertuig geklim, nadat hy hulle na sy huis genooi het.

“In die voertuig het hy vir my gesê: ‘Jy skuld my groot’. Ek het geen idee gehad wat hy bedoel nie, maar ook nie verder daaraan gedink nie.”

Hulle het aan die wyn geproe wat hy vir hulle gegee het by sy meenthuis en beide het dadelik agtergekom dat dit baie sleg is.

Sy het skielik naar geword en is badkamer toe. Die vrou sê kapt. Geldenhuys het haar kort hierna kom haal en na ‘n kamer met twee enkelbeddens gevat. “Ek het heeltemal onstabiel gevoel! My kop het skielik gedraai en ek het regtig goor gevoel. Ek het al voorheen gedrink, maar nog nooit só gevoel nie. As ‘n mens dronk is, voel jy nie so nie!”

Na sy ‘n rukkie op die bed gelê het, het sy skielik verskriklik warm gekry en begin sweet. Sy het bewerig opgestaan en op die sitkamerbank gaan lê om af te koel. Op pad sitkamer toe, het sy gesien dat kapt. Geldenhuys haar vriendin na ‘n kamer toe help.

Volgens haar het hy teruggekeer sitkamer toe, waar hy haar moes help, “want ek kon nie loop nie.”

Hy het haar hoofslaapkamer toe gevat, waar hy haar rok wou uittrek. Sy het ‘nee’ gesê, maar nie die krag gehad om hom te keer nie. Sy weet haar rok is oor haar kop getrek, maar daarna onthou sy niks nie.

Sy het wakker geword toe haar vriendin haar wakker geskud het met die woorde: “het hy aan jou gevat?’

“Dit was al lig, maar my kop wou nie registreer nie.”

Die twee vroue het ‘n geraas in die huis gehoor asof hy na iets soek, waarop hulle styf teen mekaar gaan lê en mekaar vasgeklou het. Hy het van die stoepgedeelte af ingekom.

Sy sê hy het aan haar vriendin se kant ingeklim en hulle probeer betas, “maar sy het my só styf vasgehou dat hy nie sy hande kon inkry nie. Daarna het hy na my kant toe gekom, maar kon ook niks regkry nie en het daar aan die slaap geraak.”

Sy het gewag totdat hy slaap, waarop sy haar vriendin, wat ook deurmekaar was en weer ingesluimer het, wakker gemaak het en gesê het dat hulle moet vlug.

Die jong vrou wat voor 'n gastehuis se hek deur 'n fietsryer gevind is. Sy was vas aan die slaap en die vermoede bestaan dat haar drankie gedokter is by 'n bekende kuierplek, waarna iemand haar net voor die hek van die gastehuis gaan aflaai het.
Die jong vrou wat voor ‘n gastehuis se hek deur ‘n fietsryer gevind is. Sy was vas aan die slaap en die vermoede bestaan dat haar drankie gedokter is by ‘n bekende kuierplek, waarna iemand haar net voor die hek van die gastehuis gaan aflaai het.

“Toe ek regop sit, het dit soos ‘n kool vuur tussen my bene gevoel en ek het besef wat gebeur het. Ek wou saam met haar opspring en uithardloop, maar dit was só seer dat ek nie behoorlik kon loop nie.” Haar vriendin het haar tot by die voertuig gehelp, waarna hulle huistoe gejaag en met hul vriende se hulp vandaar af ‘n klagte by die polisie gaan lê het.

“Hulle het sy DNA in my gekry!”

• Tydens sy borgaansoek in hierdie saak het hy destyds gesê “dat daar ‘n element van toestemming was.”

• Die vroue moes tydens die departementele verhoor weer getuig. Beide vroue sê hulle was destyds ontsenu, omdat kapt. Geldenhuys tydens die verhoor die hele tyd vir hulle gesit en lag het. Hy is skuldig bevind, maar tydens arbitrasie weer heraangestel.

• Kapt. Eddie Hall (mediawoordvoerder, eMalahleni polisie) het gesê dat dit moeilik is om kommentaar te lewer oor enige aantygings, aangesien kapt. Geldenhuys nie aan diens was by die eMalahleni polisie tydens die beweerde voorvalle nie.

“Die gerugte kan wel die beeld van die polisie skade aandoen.” Hy het voorgestel dat die joernalis die kwessie ook opneem met die provinsiale mediakantoor. Dié kantoor kon nie voor druktyd opgespoor word nie.

Daar is ook ‘n boodskap gelaat vir brig. Vishnu Naidoo (die nasionale mediahoof van die polisie), maar hy het nie voor saktyd reageer nie.

• Meer berigte waar vroue na vore gekom het oor beweerde ongehoorde optrede van kapt. Geldenhuys, verskyn op bladsy drie van vandag se koerant.

•Kapt. Geldenhuys wou self nie kommentaar lewer nie.

Opvolg: Video: Vroue praat oor polisie kaptein

Kaptein het meisie afgelaai

Video: Ondersoek na meisie langs pad

Vrou langs pad gekry

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

Back to top button