News

Vrou beweer sy is verkrag

'n Vrou beweer dat sy deur kapt. Awie Geldenhuys in Secunda verkrag is, toe sy net 17 jaar oud was.

Sy sê dat sy dit onsuksesvol probeer aanmeld het by ‘n lid van die destydse Kinderbeskermingseenheid (nou Kinderbeskerming- en seksuele oortredingseenheid).

Die vrou sê die polisie het hul gesin geken, aangesien haar pa haar erg geslaan het toe sy stokkies gedraai het en die Kinderbeskermingseenheid ingegryp het.

Sy sê die tieners het altyd gekuier by ‘n plek met die naam ‘Marco’s, omdat hulle poel daar kon speel en geen drank toegelaat is nie.

Die betrokke aand het die groep van drie vriendinne kort na 22:00 gewag vir een van die ouers om hulle te kom haal, want almal moes voor 23:00 tuis wees.

Kapt. Geldenhuys was bekend aan hulle “want hy het gereeld by die kuierplek verby gery as hy nagskof gewerk het en dan het hy almal vriendelik gegroet.”

Die oomblik toe die mense ry wat haar tuis besorg het, het die polisievoertuig by hul hek gestop en kapt. Geldenhuys het haar teruggeroep, voordat sy by die huis kon ingaan.

Hy het na bewering vir haar gesê dat sy ‘n entjie saam met hulle moet ry, “om vir ‘n rukkie ‘n kykie te kry in die lewe van ‘n polisieman. Jy moet onthou, ek was naïef en dit het opwindend geklink: blou ligte, skelms jaag. En dit was nog ‘n rukkie voordat ek by die huis moes wees. Boonop was Mr Bean, die ander polisieman wat ons ook almal geken het en so gedoop het omdat hy soos dié akteur lyk, darem ook in die voertuig!”

Sy het senuweeagtig geraak toe hulle ry na ‘n area, wat sy die Secunda Rondawel noem, “agter die dammetjies in die donker” en daar stop.

Haar bekommernis het in paniek verander, toe die ander polisieman uitklim en die donker in verdwyn. Op dieselfde oomblik het “hy my vasgedruk en sy tong in my mond gedruk. Hy het sy broek losgemaak en my gedwing om aan sy geslagsdeel te raak. Hy het erg seksueel opgewerk geraak.”

Volgens haar het sy aanmekaar geskree: “moenie, asseblief, hou op, ek wil huistoe gaan! Hy het egter vir my gesê: ‘jy is braaf. Jy het jou soos ‘n slet gedra. Jy moet nou vat wat na jou kant toe kom!”

Daarna het hy haar na bewering uit die bakkie gesleep, oor die polisievoertuig se enjinkap vasgedruk en haar verkrag. “Ek kon niks doen nie, ek was net te klein, ek het 45kg geweeg en was net 1.58m lank.”

Sy het in die fynste besonderhede vertel presies hoe dit gebeur het en ook wat sy aangehad het. “Ek het ‘n rompie aangehad en hy het my broekie geskeur in die proses wat hy my verkrag het.”

Die ander polisieman het glo teruggekom, in die bakkie geklim en hulle het haar net daar gelos.

Sy het in die donker gestrompel tot by ‘n pad, waar iemand haar opgelaai en huis toe gevat het.

Met haar tuiskoms, het haar ouers met haar baklei omdat sy laat was “en ek kon hulle nie vertel nie. Ek het vuil en kwaad gevoel en het myself blameer omdat ek saam met hulle gery het. Ek nie eers geweet of hy ‘n kondoom gebruik het nie en ek was boonop ‘n maagd! Ek het myself aan die slaap gehuil en die volgende dag die klere weggegooi.”

‘n Paar dae later was sy by die ondersoekbeampte van haar pa se saak. “Sy het vir my gevra ek moet al die name neerskryf van die mans saam met wie ek al geslaap het. Ek het net Awie Geldenhuys se naam op die papiertjie geskryf en haar begin vertel wat gebeur het. Sy het die papiertjie by my gegryp, dit opgeskeur en gesê: ‘ons sal nooit weer hieroor praat nie.”

Sy sê sy hét vir die polisievrou gesê dat die saak oorgegee moet word vir ‘n ander polisievrou (sy het beide se name verskaf). “Daar het niks van gekom nie. Ek het die polisievrou vertrou, maar sy wou my nie glo nie.”

• Die vrou het gemeld dat sy na die voorval “ontaard het in ‘n rebel en in ‘n nywerheidskool geëindig het. Ek het ook erg alkohol begin misbruik. Ek het nooit sielkundige behandeling ontvang nie, tot so drie jaar gelede wat ek by ‘n psigiater uitgekom en daaroor gepraat het. Ek sal dit egter nooit vergeet nie en dit affekteer my huwelik.”

• Die Observer het al verskeie kere vir kapt. Geldenhuys vir sy kommentaar genader, maar hy wil nie kommentaar lewer en net gesê hy sal “miskien later” kommentaar lewer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button