News

Video: Gidshond, Jewels, laat Mickey weer ‘sien’

Moenie skrik as jy voortaan inkopies doen en 'n pragtige, swart hond skielik langs jou sien nie.

Jewels, ‘n kruising tussen ‘n labrador en golden retriever, is haar blinde eienaar, mev. Mickey le Grange, se nuwe paar oë en lei haar presies waar sy wil wees.

“Ons is nuut in Middelburg en mense is nie gewoond aan gidshonde hier nie. Veral winkel- en restauranteienaars stry gereeld as ons sê dat Jewels op hulle perseel toegelaat mag word.”

Jewels is egter nie ‘n gewone hond nie, maar ‘n geregistreerde gidshond en het toegang tot alle plekke waartoe haar eienaar toegang het.

Mev. Le Grange en haar vrou, Arlene, het onlangs uit eMalahleni na Middelburg verhuis en moes van voor af onkundige mense verdra wat hulle uit winkelsentrums verwyder omdat hulle nie bewus is van gidshonde en hulle taak nie.

“Dit is veral die sekuriteitswagte wat dit vreemd vind en hardhandig raak. Dikwels moet hulle eers deur hulle bestuurders ingelig word oor gidshonde. Toe ons nog in eMalahleni gebly het, het Highveld Mall al hulle personeel tydens ‘n vergadering ingelig oor my en Jewels. Ons is nooit weer voorgekeer nie.”

Hierdie onkunde aangaande die toegangsregte van gidshonde, heers egter oor die hele land.

Volgens me. Gail Glover, uitvoerende direkteur van Suid Afrikaanse Gidshond Assosiasie (SAGDA), stel die Suid-Afrikaanse Konstitusie dat daar nie gediskrimineer mag word teen enige persoon as gevolg van sy gestremdheid nie.

“Dit beteken dat mense wat blind is, nie toegang verbied mag word by openbare plekke soos restaurante en winkels omdat hulle ‘n gidshond het nie. Indien iemand wel toegang verbied word, mag hulle die Menseregte Kommissie nader om die persone te verkla.”

Me. Glover stel ook voor dat enige organisasie (van winkels tot gastehuise) hulle self moet vergewis van die regte van gestremde mense.

“Organisasies moet ‘n beleid hê wat toegangsregte van gidshonde duidelik aan almal stel. Die beleid moet aan alle personeellede gedurende opleiding gekommunikeer word. Dit is elke organisasie se verantwoordelikheid om hierdie toegangsregte te ken en leer.”

Die gesin vra ook dat mense eers moet vra voordat hulle aan Jewels raak of haar vryf.

“Sy is glad nie aggressief nie en sal nie eers blaf nie. Dit is net omdat ons wil hê sy moet weet dat wanneer sy haar harnas aan het, sy besig is om te werk. Moet haar ook nie kos voer nie asseblief, want sy is op ‘n spesiale dieet. Sy moet die heeltyd gehoorsaam aan ons bly.”

Mev. Mickey le Grange is al vir sewe jaar blind in haar regter oog en kan slegs twee persent uit haar linker oog sien.

“Ek het ‘n retinaloslating gehad en na talle operasies, komplikasies en mislukkings, het ek nou ‘n glasoog.”

Sy is egter positief en is trots om te sê dat sy die eerste blinde naeltegnikus in Suid-Afrika is.

“Ek doen steeds naels en mense moet my tog net nie jammer kry nie. Ek is steeds mens, steeds net Mickey.”

• Gaan na www.mobserver.co.za om die video te kyk van hoe Jewels vir Mickey lei.

SAGDA is tans aktief besig om ‘n veldtog te loods wat voorspraak maak vir die toegangsregte van gidshonde en hulle eienaars dwarsoor Suid-Afrika. Enige organisasie wat raad of opleiding nodig het, stuur gerus ‘n e-pos aan info@guidedog.org.za.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button