News

Net ‘n teelepel kan renoster dood maak

'n Sakkie vol Temik, die gif wat gebruik is om die afgelope paar weke meer as 40 honde te vergiftig, is Donderdag binne twee minute in die Iraq taxistaanplek gekoop toe 'n inwoner rondgevra het vir rotgif.

‘n Sakeman (wat verkies om anoniem te bly) het die Observer Vrydag gebel en vertel hoe maklik hy Temik in die hande gekry het.

Hulle het ‘n rot in die kantoor gehad en hy het een van sy werknemers gevra om gou rotgif te gaan koop. Die werknemer was binne 10 minute terug met ‘n korrelrige gif in ‘n plastieksakkie. Hy het dadelik die gif herken as die gevreesde Temik (ook Two Step genoem) wat die afgelope tyd gebruik is om honde te vergiftig.

Toe hy die werknemer vra waar dit gekry is, is hy meegedeel dat dit by die Iraq taxistaanplek vir R10 gekoop is. Die Observer het twee jaar gelede ook van hierdie gif in dieselfde taxistaanplek gekoop.

Kort nadat die gif destyds so maklik in die hande gekry is, is daar navraag gedoen by dr. Gerhard Verdoorn (Direkteur van die Griffon Gifsentrum en konsultant vir die Landbou Chemiese Industrie en AVCSA – Association of Veterinary and Crops SA) oor hoe giftig Temik is.

Hy het gesê dat ‘n teelepel vol van die korrelrige gif ‘n renoster kan doodmaak, maar net ‘n tiende daarvan kan ‘n man van 80kg se dood veroorsaak!

Hy het hom skerp uitgespreek oor dié vergiftiging wat al vir jare in Suid-Afrika voorkom.

“Daar vrek daagliks tot ‘n duisend honde in Suid-Afrika en sowat 100 mense gaan dood aan Aldicarb-vergiftiging per jaar!”

Bayer CropScience het in 2011 opgehou om Temik te vervaardig en alle voorraad was teen einde November uitverkoop. In Mei 2012 is die registrasie van Temik teruggetrek.

Temik is hoofsaaklik gebruik met plaagbeheer vir aartappelboere, maar is erg gereguleer. Slegs geregistreerde plaagbeheermaatskappye kon dit bekom en boere moes spesiale opleiding kry om met dié gif te werk.

Die vraag is nou, wáár kry die booswigte die gif in die hande?

Dr. Verdoorn het al in Julie 2010 ‘n verslag aan die sekretaris van die Polisie voorgelê, waarin hy die gevare van Temik, en veral Aldicarb (die formulasie wat in Temik voorkom), uitspel.

Die meeste van die korrelrige gif wat deesdae gebruik word met die vergiftiging van honde, is Aldicarb-formulasies en nie noodwendig Temik nie. Alle Aldicarb-formulasies is egter ewe dodelik – “10 keer meer dodelik as strignien!” (Strignien staan bekend as wolwegif).

Dr. Verdoorn se verslag sê in ‘n neutedop dat die vergiftiging van diere, hetsy troeteldiere of plaasdiere en selfs wild, alles deel is van ‘n baie groter misdaadsirkel.

Die gebruik van Temik en ander Aldicarb-formulasies is onwettig vir landbougebruik, maar daar is steeds nie wetgewing daaroor nie en dit is net daar waar die probleem lê, sê dr. Verdoorn.

Hierdie Aldicarb formulasies word van oral af die land ingesmokkel en is belaglik maklik by smouse, soos in Middelburg by die Iraq staanplek, beskikbaar.

“Die hele misdaadsindikaat begin wanneer die dier die gif ingekry het. Daarna het die misdadigers makliker toegang tot die eiendom en volg inbrake, kardiefstalle, moorde en verkragtings!”

Die middel is dodelik en vinnigwerkend. ‘n Persoon wat Aldicarb inkry kan in onder ‘n uur sterf. “Baie mense pleeg met Aldicarb formulasies selfmoord.”

Hy het vertel van drie voorvalle waar jong kinders onder agt jaar Aldicarb ingekry het nadat hulle gif wat versteek was in vleis vir honde, geëet het. Twee van die drie kinders het gesterf.

‘n Klein hondjie wat ‘n groot dosis Aldicarb inkry kan binne vyf minute vrek en ‘n groot hond binne 12 minute.

Dr. Verdoorn veg al lank vir wetgewing. Hy het in 2014 gesê dat hy weet van een persoon in Heidelberg wat ‘n opgeskorte vonnis opgelê is. Dit was egter net omdat hy die Aldicarb-formulasie verkoop het as rottegif. “Hulle kan vir niks anders aangekla word nie. Die polisie kan niks doen nie, want daar is nie spesifieke wetgewing daaroor nie!”

Sy verslag sluit af met: “Dit is nie onmoontlik dat misdaadsindikate ‘n massiewe menslike of omgewingsramp kan veroorsaak deur die onwettige smokkel van die gif nie!”

• Meer as 40 honde is in 20 dae in hoofsaaklik Kanonkop en Dennesig met Temik vergiftig. Tydens baie van die vergiftigings is daar by huise ingebreek.

Die Joubert-gesin, wat in Harry Gwalastraat (Dennesig) bly, se jong Chinese Keeshond (Chow) is twee weke gelede vergiftig.

Verlede week het mnr. Gideon Joubert opgemerk dat daar stukke kos met die korrelrige gif daarin, bo-op sy palissade heining sit.

Lees vorige stories hier:

Temic-strooiers slaan weer toe in Pleinstraat

Temik – begin misdaadsirkel

48 Dogs, One Cat killed in 28 Days

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button