Klagtes teen kibboets
Mense wat voorheen by die kibboets gebly het, sê hulle moes soos slawe werk en dat die kibboets soos ’n ‘strafkamp’ bedryf word.

Nadat www.mobserver.co.za verlede week berig het dat mnr. Raymond Belcher besluit het dat hy die kibboets gaan sluit, het mense na vore gekom met skokkende bewerings.
Me. Lizaan Swart sê sy “kan nie meer stilbly nie! Al die stories wat mense vertel oor die kibboets is waar! Raymond hou die beste kos vir homself, verskreeu die arme mense én hy gebruik die geld wat hy maak met artikels wat verkoop word, om drank te koop!”
Volgens haar is die inwoners van die kibboets te bang om iets te sê en as ander organisasies of kerke wil help, dan word die skuld vir die probleme voor hul deure gelê. “Raymond is nooit daar as hulle daar is nie, want hy is te bang hulle sien dat hy drink!”
Sy vertel hoe mense, sommige met ernstige gebreke, elke dag van 08:00-13:00 op die perseel en in die tuine “in die bloedige son moes werk.” Dit is egter nie waaroor sy die kwaadste is nie, maar omdat hulle die “hele tyd verskree word.”
Sy beweer dat die kerse wat gemaak is en deur die kibboets se mense verkoop moet word, “se geld gevat en drank mee gekoop is.”
