Bewerings van gedwonge seks met skoolseuns
Suid-Afrika se mees regse Leeuwyf, Cornelia de Wet, speel wéér op Avbob se stoep, met die plasing van skokkende bewerings van tiener verkragtings deur ’n juffrou van Belfast Akademie.
De Wet is in Februarie 2014, na meer as twintig maande agter tralies vrygelaat, en met haar minderjarige dogters herenig.
Klagtes van hoogverraad, terrorisme en die omverwerping van die regering, is onder meer teen haar ondersoek nadat sy met plofstof en ammunisie op haar plaas buite BCarolina betrap is.
Naas haar lojale betrokkenheid by die AWB en Leeuwag, het sy ook die hoofopskrifte gehaal met haar bewerings dat sy betrokke was by meer as 10 moorde, insluitende plaasmoorde, waar onder die opspraakwekkende Griekwastad moorde van Deon Steenkamp (44), sy vrou Christel (43),en hul 14-jarige dogter Marthella, op die plaas Naauwhoek gedurende April 2012.
Die Steenkamps se seun, Don, is eindelaaste van die moorde en verkragting van sy sussie skuldig bevind, hoewel die Valke wél De Wet se bewerings ondersoek het.
De Wet se bewerings teen die regering en regse gespuis, wat sy beweer agter haar arrestasie sit, is legio.
De Wet het haar sedert haar vrylating stemmig gedra, tot Woensdag, toe ’n lid van die publiek die Observer genader het met ’n aanlyn berig op www.southafricatoday.net, waarin ’n vroulike personeellid van Belfast Akademie, van die gedwonge seksuele uitbuiting op tienerseuns, beskuldig word.
Die beweerde Facebook gesprek tussen die juffrou en ’n seun, waarin sy hom dreig dat hy sou druip as hy nie met haar seks het nie, word selfs op die blad vertoon.
Volgens die webwerf het die seun se bekommerde ouers, die rassistiese Facebook groep White Movement World Wide genader, om die deksel op die seksuele misbruik van kinders by Belfast Akademie te lig.
Die Middelburg Observer het met South Africa Today se administrateurs gepraat oor die oorsprong van die berig.
Die Observer is na White Movement World Wide verwys, waar De Wet, statig met haar kinders onder die vlerk, as hoofadministrateur pronk.
De Wet het al verskeie kere haar moses teë gekom op die internet, met die bedryf van skim profiele soos dié van Flippie Potgieter, wat glo die bewerings teen die juffrou, namens White Movement World Wide ondersoek het.
Die storie is toe aan South Africa Today gevoer vir aanlyn publikasie, waar die juffrou duidelik geïdentifiseer word.
Waarom die ernstige aantygings van verkragting en intimidasie van tieners seuns nie deur White Movement World Wide by die polisie aangemeld is nie, gee South Africa Today ’n hele relaas oor korrupsie in die regsisteem, wat besonder onvriendelik is teenoor mishandelde kinders.
Kort na die Observer se navrae aan South Africa Today, is die White Movement World Wide groep egter vinnig van Facebook verwyder, maar nie voordat die Observer eers ’n behoorlike kykie na die lede op dié blad kon kry nie.
De Wet het by navraag gesê dit is nie haar plig om die “vergrypings” aan te meld nie.
De Wet is ook ’n aktiewe lid van die voormalige Facebook groep – Belfast Academy must fall – wat intussen soos White Movement World Wide, verwyder is.
Talle lasterlike uitlatings teen die skool, die hoof, personeel en beheerliggaamlede, is op dié blad gemaak.
Die polisie se kubermisdaadeenheid ondersoek die saak. Die departement van onderwys doen ook sy eie ondersoek.
Wat Belfast Akademie se beheerraad sê oor die voortslepende lasterlike bewerings teen die skool en personeel:
Geagte ouers, leerders en vriende van Belfast Akademie. Soos u ongetwyfeld reeds gesien het op die Facebook bladsye wat geskep is deur sekere individue wat daarop uit is om die skool se naam deur die modder te sleep, word daar verskeie stellings gemaak rondom optredes van onderwysers by ons skool, asook optredes van ons skoolhoof en sekere beheerliggaamlede (myself ingesluit). Ons wil u verseker dat hierdie stellings absolute snert is en dat daar tot dusver nog geen greintjie bewys gelewer is om hierdie bewerings te staaf nie.

Talle ouers het verskeie kere reeds gevra waarom ons nog nie op die beskuldigings geantwoord het nie. Op advies van ons regspersone asook FEDSAS, weerhou ons onsself om kommentaar te lewer totdat die forensiese ondersoek na die selfoon wat ingeneem is van ’n leerder, asook die ondersoek na die persoon wat verantwoordelik is vir die skepping van hierdie blad afgehandel is.
Ons wil u graag ook verseker dat wanneer hierdie punt bereik is, ons daadwerklik sal optree en sodoende die skool se naam in ere herstel. Omdat ons as beheerliggaam moet voldoen aan al die regsaspekte van die Suid-Afrikaanse Skolewet, asook die Handves van Regte, word ons gebind daartoe om te handel op ’n wyse wat deursigtig is en nie teen die wet mag gaan nie.
Pieter Theart – BHL Voorsitter.
Lees verwante stories hier:
