Saak uitgestel teen egpaar
Die saak teen die gesiene Federale Stene bestuurspaar, Johan en Yolande Humphries, wat onderskeidelik van aanranding en dwarsboming van die gereg aangekla is weens ’n bakleiery op ’n botsingstoneel Vrydag, is Maandag uitgestel tot 25 Julie.
Die egpaar word daarvan beskuldig dat hulle die bestuurder van ’n maatskappybakkie na die botsing, van die toneel af help vlug het. Mnr. Humphries is Federale Stene se hoofbestuurder, terwyl me. Humphries aan die hoof staan van die verkoopsdepartement.
Die botsing het kort na 22:00 op die berugte Walter Sisulustraat-draai, waar daar reeds verskeie noodlottige ongelukke was, gebeur.
Die Humphries egpaar het glo omstreeks 22:30 by die toneel met hul Fortuner opgedaag, en volgens die insleepoperateur, mnr. David Ross, beveel dat die bestuurder van die maatskappybakkie wat teen ’n boom gebots het, in die Fortuner klim.
Brandweermanne het egter ingegryp en versoek dat die bestuurder nié van die toneel verwyder word, alvorens hy deur paramedici ondersoek is nie.

Mnr. Ross is na bewering deur mnr. Humphries geslaan, toe hy me. Humphries versoek het om te kalmeer.
Na die vuishou het mnr. Humphries en die bakkiebestuurder in die Fortuner gevlug. Me. Humphries is op die toneel deur haar man agter gelaat, waar sy vir die polisie gesê het dat sy die bakkie bestuur, én vir mnr. Ross geslaan het.
Sy is gearresteer vir dwarsboming van die gereg nadat sy later wel erken het, sy het nie die bakkie bestuur nie. Mnr. Humphries het homself die volgende dag gaan oorgee, en die egpaar is beide op waarskuwing vrygelaat.
Hul prokureur, mnr. Jaco Kruger, het versoeke vir kommentaar van die hand gewys, maar wel gesê mnr. Ross was die kwaadstoker, en dat hulle sal bewys dat hy me. Humphries aangerand het, en mnr. Humphries haar bloot teen hom beskerm het.
Mnr. Ross het me. Humphries glo hardhandig weggestamp toe sy haar saak met die brandweer wou beredder. Daar word ook beweer dat die Humphries egpaar niemand op die toneel met die k-woord toegesnou het, of aggressief was teenoor noodpersoneel nie.
’n Teenklag van aanranding is intussen teen mnr. Ross geopen. ’n Dossier, kompleet met foto’s van me. Humphries se beserings, en ’n verklaring van ’n ooggetuie wat haar en mnr. Humphries se weergawe van gebeure staaf, sal op 25 Julie by die hof ingedien word.
Mnr. Ross sê dat die klag teen hom, bloot ’n regsfoefie is wat nie sal slaag nie. “Die polisie het my reeds in kennis gestel dat die me. Humphries se teenklag nie aandag geniet nie,” het hy Dinsdag aan die Observer genoem. Die polisie wou nie die bakkie bestuurder se identiteit bekendmaak nie.
Lees hier oor ander klagtes teen die hospitaal.
Opvolg: Special Assignment kom ondersoek
Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates. You can also WhatsApp us on this number 079 426 1396
Also check out our Video’s on Youtube daily!
