News

Hô-Kaai en stop by dié spoggerige restaurant

Gewonder waar jy ordentlike, lekker kos gaan kry op pad na Loskopdam? Stop, want Hô-Kaai Bistro is die plek vir jou.

Kranspoort Pub & Grill het ‘n gedaanteverwisseling ondergaan onder die bestuur van die nuwe mede-eienaar, Albert Meiring.

Hô-Kaai Bistro is die nuwe naam van die stylvolle restaurant met ‘n splinternuwe spyskaart.

“Voor die einde van die jaar beplan ons om ook ‘n putt-puttbaan, chalets, glybaan en klimraam op te sit hier by Hô-Kaai.”

Albert kom van Stilbaai af waar hy twee suksesvolle restaurante gehad het en hy het slegs ‘n maand terug op dié plek tussen die pragtige klowe afgekom.

“Ek het binne ‘n paar dae verlief geraak. Ons is maar slegs twee weke oop en kan skaars voorbly!”

Die naam kom van die idee van ou karre af en daar is elke Sondag van 12:00-15:00 ‘n smaaklike buffet.

Daar is ook ‘n spesiale aanbod op brandewyn by die kroeg en die drie platskermtelevisies sal jou beslis nie die rugby laat misloop nie.

“Ons verkoop ook vleispakkies. Jy kan my enige tyd bel en sê jy soek ‘n braaipakkie met pap en slaai of wat ook al en ek maak dit vir jou. Jy kan dit of hier braai of huis toe vat.”

Dit is juis hierdie einste vleis van Albert wat hom binne 14 dae laat naam maak het in dié kontrei.

“Ek maak vleis wat mense nie sal ken nie en heeltemal uniek is. Jy sal nie glo hoe lekker en ‘mature’ dit is nie. My spesialiteit is een kilogram lendeskyf en T-bene.”

Dié man van Wes-Kaap is ook natuurlik ‘n seekoskoning en het sy eie ‘basting’ en sous.

“Ek het my eie manier van gaarmaak en resepte saamgebring so jy sal regtig nie so iets op ‘n ander plek kry nie.”

Asof dit nie genoeg rede is om ‘n draai by dié spoggerige plekkie te maak nie, sal Sharon Botes se tuisgemaakte vleispasteie jou verder verlei.

“Hier is ook ‘n tuisnywerheid by Hô-Kaai en ek maak die pasteie self. Jy sal nie beter kry nie!”

Sy lewer ook ‘n gemeenskapsdiens by die tuisnywerheid waar jy ook verskeie aandenkings kan koop – van konfyt tot krale.

“Dit is gratis om jou goedjies hier te verkoop en op die eerste Saterdag van elke maand is daar ook ‘n môremark waar mense gazebo’s, stoele en goedjies kan bring en hulle goed kom verkoop.”

Die gesellige Bosveldatmosfeer en heerlike etes sal jou beslis laat terugkeer na hierdie besonderse plekkie.

“As dit aanhou om so goed te gaan met die besigheid, beplan ek om ‘n franchise te begin.”

Met die bestaande geriewe soos ‘n swembad en kampplek met kragpunte, en die nuwe geriewe in die pyplyn, sal Hô-Kaai Bistro binnekort jou een-stop wegbreek wees.

“Dit is ‘n plek enig in sy soort en jy sal nooit weer in jou lewe so ‘n plek kry nie.”

• Hô-Kaai Bistro is op die N11 reg oorkant die ingang na Kranspoortdorp en vyf kilometer vanaf Loskopdam.

• Skakel 071 533 3838 of 082 656 4363 vir verdere navrae of groepbesprekings.

• Hô-Kaai Bistro is Dinsdae tot Sondae oop en die kombuis is van 10:00-22:00 oop en die kroeg van 22:00-24:00.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button