News

Projek help mense in nood

’n Hawelose gesin wat langs die Krugerdam op Middelburg “geplak” het was die begin van ’n uiters suksesvolle projek om haweloses en honger mense by te staan.

Vandag staan dit bekend as die Koppiestraatprojek waar talle wat op straat was of mense wat honger is, gehelp word.

Die projek huisves op die oomblik 58 mense wat andersins geen ander heenkome sou gehad het nie. Na die sluiting van die kibboets buite die dorp, is verskeie van daardie inwoners ook by Koppiestraat gehelp.

Vandag is dit ’n voorbeeld vir ander dorpe in Suid-Afrika wat gedoen kan word om haweloses van die straat af te kry.

’n Plaaslike sakeman het die huis en perseel gratis beskikbaar gestel nadat hy van die Krugerdam inwoners se nood bewus geword het.

Maar nou het die projek nog ’n stappie verder gegaan en probeer selfonderhoudend wees.

Die nuwe algemene- en projekbestuurder, mnr. Frans van Dyk, het begin om groentetuine in buitebande te plant. Mnr. Van Dyk verduidelik dat hulle nie gewone groentetuine kon aanlê nie, aangesien die grootste gedeelte van die Koppiestraat erf met bourommel opgevul is en nie geskik is vir tuinmaak nie.

Hordes plantjies is geplant, waaronder spinasie, blomkool, brokkoli, kool en uie. Hulle het skenkings van saad gekry, waarmee eers saailinge gemaak sal word en dan in die buitebande herplant sal word.

Die plantjies word natgehou met die badwater wat opgevang word.

As die groente reg is vir gebruik, sal dit in hul kombuis aangewend en ook verkoop word.

• Die volgende groot projek wat op 3 September amptelik wegspring, is die herwinningsprojek.

Mnr. Van Dyk vra dat mense al hul papiere, koerante, kartondose, blikkies en plastiekbottels by hulle afgee tussen 08:00 en 17:00.

Dit sal op dieselfde dag gesorteer en deur die herwinningsmaatskappy, Dream Earth, opgelaai word.

Mnr. Van Dyk sê die plan is om elke maand die eerste Saterdag so ’n herwinningsdag te hou. Daar sal houers by Koppiestraat beskikbaar wees as mense artikels vir hul herwinningsprojek wil ingooi.

• Buiten die projekte, het verskeie besighede reeds aangedui dat hulle wil help om opgraderings te doen soos loodgieters- en elektrisiteitswerk.

Mnr. Van Dyk doen gereeld dwelmtoetse onder die inwoners.

Saam met sy twee terrein-bestuurders, Margaret van Wyk en Marietjie du Plooy, asook met die hulp van die Middelburg 911-lede, glo hy dat Koppiestraat uiteindelik die opheffingsprojek gaan wees waarvoor dit jare gelede begin is.

• Persone wat skenkings wil maak vir Koppiestraat, kan me. Du Plooy bel by 072 546 4923 of me. Van Wyk by 076 450 5054. Navrae rakende projekte, kan gerig word aan mnr. Van Dyk by 082 920 4379.

Lees ander stories hier:

Man gryp driejarige dogtertjie

Warning Graphic: Five babies dumped in less then two months

Update: Police finally make arrest after latest discovery

New born baby found dead

(Warning Graphic Content): Baby dumped by mother survived unscathed

Baby found in bag

Video: Voor die wind met Koningskind

Update: Baby X in place of safety

Video: The baby’s hero in blue

Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button