Video: Voor die wind met Koningskind
Dit gaan baie goed met die pasgebore babameisietjie wat Vrydag 12 September toegedraai in koerante agter die Middelburg Care Village gevind is.

Die ma van die kind het haar kort na haar geboorte in die veld in skouerhoogte gras gaan neersit en weggeloop.
’n Tiener wat kortpad oor die treinspore wou vat het net na 19:00 die baba se gekerm gehoor en die polisie ontbied.
Sy is Middelburg Hospitaal toe geneem waar sy moontlik teen volgende week ontslaan sal word.
Sy sal in die sorg van die Umepi kinderhawe geplaas word na haar ontslag.
Die kinderhawe kyk ook na ses ander babatjies van een jaar en jonger.
Die Observer het Dinsdag 16 September by die baba gaan kuier met ’n reuse sak klere. OH Frewin drukkers het dadelik R550 onder personeel bymekaar gemaak en ook bederfies vir die prinsessie gaan koop.
Hospitaalsusters sê dat strome mense van 07:00 Dinsdagmore by die hospitaal in en uit was met benodigdhede vir die baba.
’n Groot aantal mense het ook reeds aangedui dat hulle haar wil aanneem en een van hulle het tydens die Observer se kuiertjie Dinsdag grappenderwys gesê “ek wag net dat die suster loop, dan sit ek haar in my handsak”.
Almal gaan egter eers verby a/o Abdool Kasu, die polisiereservis wat Vrydagaand by haar in die grasse gewaak het kom, want klein Aneesah, soos hy haar gedoop het, en “liefdevolle metgesel” beteken, het so diep in sy hart gekruip dat sy nooit weer daar sal uit nie.
Die kleinding is stroopsoet en glimlag reeds vir almal wat haar besoek en vashou, en let wel, daar’s nie ’n enkele besoeker wat nié daarop aandring om haar vas te hou nie.
Die Observer het ’n houer in die redaksiekantoor waar inwoners benodighede soos natlappies, doeke, baba formule, boudjiesalf, klere en ander geskenkies kan gaan gooi.
