Bloed in water gou skoon
Bloed en riool wat in die dam naby Belfast Akademie beland het, is blitsig skoongemaak.
Mnr. Pieter Theart (voorsitter, Belfast Akademie) sê sedert die plasing op Facebook gemaak is dat daar bloed en rou riool in die dam en vleilande naby die skool inloop, het die Emakhazeni Munisipaliteit dit reeds skoongemaak en ontsmet.
Mnr. Dewald de Klerk het verlede week ’n foto geplaas en gesê dat die vier pompstasies van die rioolwerke nie werk nie en dat die bloed en riool dan in die damme en vleilande beland.
Volgens mnr. Theart moet hy die munisipaliteit egter ’n pluimpie gee wat elke keer as daar ’n probleem is, dadelik reageer.
Hy sê die probleme met die rioolstelsel kom al van die swak beplanning van die rioolwerke donkiejare gelede af.
“Die lyn loop vanaf Wimpy, verby die abattoir en verby die hospitaal. Vandaar is daar ’n pyp wat vertak na die skoolgronde toe. Die hooflyn is ’n groter tipe pyp as dié van die skool.

“Dit is hier waar die krisis ontstaan. In die wintermaande verhard die vet vanaf die hospitaal en abattoir, blok die pype na die skool toe en laat die bloedwater en riool by die dam naby die skool uitloop.”
Mnr. Theart sê om die hele stelsel te vervang, sal miljoene beloop en die munisipaliteit kan dit eenvoudig nie bekostig nie.
“Elke keer as daar ’n blokkasie is, reageer hulle egter op ons klagtes en maak seker dat dit skoongemaak en oopgemaak word. Dit word ook gesteriliseer, sodat ons kinders nie blootgestel word aan onnodige onhigiëniese toestande nie.”
Hy het dit duidelik gestel dat dit nie ’n area is naby waar die kinders loop of speel nie. Die skool is juis in die proses om te beplan vir ’n palissade heining in daardie area, sodat niemand daar naby kan kom nie.
Lees ander stories hier:
Opvolg: Bloed in straat weens drein
(Video’s) Opvolg: Is dit die moordbende
Opvolg: Skote op voertuig geskiet
Nuusflits: Jong man in kop en sy geskiet
Exclusive video of ATM Bombings at Midwater centre
Standard Bank ATM bombed at Midwater Centre
