News

Hester praat oor boek op Kwêla – ‘Een nag en ’n bietjie’

‘Een nag en ’n bietjie’, Hester Kruger se boek oor die aanval op haar en haar man, asook die wrede rooftogte en moord in die Middelburg omgewing, word vanaand op Kwêla bespreek.

Die boek laat ’n mens hoendervel kry as jy weer die gebeure van die nag van die aanval en ontvoering op hulle beleef. Saam met haar die vlietende gedagtes uit haar kinder- en jongvroudae ervaar as sy dink die dood is naby.

Hierdie gedeeltes word begin in die eerste helfte van die boek met: “Een nag….”

En dan uiteindelik die tweede helfte, “En ’n bietjie” die lewe daarna, die invloed op haar en haar man, Johan se lewens, en die aanvaarding en saamleef van die trauma, wat vir altyd hul lewens verander het.

Hester is ietwat oorweldig oor al die aandag wat sy tans kry en lag lekker as sy sê dat Middelburgers en Groblersdallers vanaand eers moet kyk na haar kouse voordat hulle na die verhaal van die boek luister.

“Kyk asseblief vir my rooi kouse! Ek is die hele Groblersdal deur om róói kouse te kry om myself moed te gee!”

Hester sê sy het die boek geskryf oor hoe sy gevoel het. “My man is eintlik die skrywer. Ek is nie ’n tegniese skrywer nie. Ek het ook nie probeer tegnies skryf nie. Ek het uit my hart uit geskryf!”

Sy is ook gemaklik daarmee dat sy litirêre kritiek oor haar boek kan kry.

“My dogter het dit so mooi beskryf. In musiek wanneer die toonaard van ’n lied verander, moet jy net asemhaal en in die volgende modus ingaan. En dit is presies wat hier gebeur het.”

Hester en haar man, adv. Johan Kruger, was die nag van 4 Januarie 2009 die eerste slagoffers van ’n reeks aanvalle en later ook ’n moord op plase op die Loskopdampad.

Die egpaar is op hul plaas oorval, aangerand en ontvoer. ’n Paar kilometer buite Middelburg het hulle haar en die een aanvaller alleen langs die pad afgelaai en is die ander met haar man in dorp toe om geld uit sy rekening te trek.

Sy het later die donker in gevlug en ure later eers langs die pad hulp gekry. Haar man is deur die rowers in Limpopo afgelaai. Beide het gedink hul huweliksmaats is dood en dit was later ’n blye weersiens.

Oral in die boek is daar terugflitse na haar verlede soos sy dit kon onthou. “Dit was hoofsaaklik die waarheid, maar soms las ’n mens ook maar ’n stertjie aan.”

Hester stel dit duidelik dat die boek nie “’n resepteboek sal wees hoe om trauma te hanteer nie, dit is my persoonlike manier van doen. Elke slagoffer hanteer en voel anders. Ek deel egter in hul pyn. Ek gee erkenning aan hulle in my boek.”

Sy vertel dat sy ’n boek gegee het vir een van die slagoffers, oud-Middelburg Observer joernalis, Magda van Maarleveld.

“Ons het daaroor gepraat en ek het besef elkeen het ’n eiesoortige ervaring van trauma, wat niemand ’n antwoord voor kan gee oor hoe om dit te hanteer nie.”

Hester sê haar boek “gaan oor menslikheid. Ek praat nie misdaad goed nie. Ek sê tog in die boek dat ek gejubel het toe ek besef het die een is dood. As almal egter haat, sal alles in duie stort. Boewery kan nie goedgekeur word nie, maar daar moet aandag gegee word aan die onderliggende faktore soos onderrig, gesindheid, ekonomiese toestande. Alles dra onderliggend by tot geweld en dat mense aggressief word. Ek is die laaste persoon wat kan oordeel.”

Maar hoekom ’n boek? Sy sê dat verskeie faktore haar oortuig het om die pen op te neem.

Dit het begin by die dag toe sy een middag oor middagete vir ’n vriendin vertel het van die gebeure. “Sy het gesê, hoekom skryf jy nie ’n boek nie.”

Die boek was vir haar deel van die herstelproses. “’n Mens se gedagtes bly rondrol rondom die gebeurtenis. Ek wou afstand van my emosies kry om objektief daarna te begin kyk.”

Die afstand is vergestald in die feit dat sy nie haar en haar man (in die eerste persoon) se name gebruik het nie. Al die ander slagoffers se name is egter gebruik en die gebeure ook feitelik weergegee.

“Dit was egter nie net dat ek alles kon orden en uiteen kon sit nie. Dit is ook geskryf vir my kinders, want dit was net so traumaties vir hulle. Hiermee wou ek net vir hulle sê: ek is okey.”

Die boodskap wat sy uitdra, is dat pyn en misdaad universeel is in Suid-Afrika en dat nie net sy uitgesonder moet word as slagoffer nie. Sy wil egter vir elkeen daarbuite wat deur dié pyn gaan, hierdie spesiale boodskap gee: “Daar is altyd ’n pad vorentoe, maak nie saak wát die omstandighede is nie!”

• Die uitsending is vanaand om 20:30 op Kyknet, DSTv-kanaal 144.

• Nog ’n berig verskyn in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer.

Lees ander nuus hier:

Girl (17) arrested ‘for killing boyfriend’

Man dood, ma en kind ernstig beseer na Toyota-botsing op N4

Gemeenskapsvergadering vir Kanonkop kiesers’n belangrike een

Video: Miljoene lieters water verlore met pyp wat bars

Video: Voetuig tussen trokke vasgedruk

Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

 
Back to top button