LifestyleLocal LifestyleNews

Vermiste koringslang oorleef wilde winter in Middelburg

Middelburg gesin verheug nadat hul vermiste koringslang ná maande se vryheid in winterkoue weer veilig gevind en tuis is.

’n Slang wat onlangs in ’n plaaslike inwoner se tuin opgedaag het, het behoorlik ’n paar harte vinniger laat klop.

Die Pretorius-gesin van Gholfsig was oorstelp van vreugde en verligting toe hulle ontdek dat hul vermiste slang ná maande weer veilig tuis is.

Foto’s van die onverwagse besoeker is aanvanklik op WhatsApp-groepe gedeel toe nuuskierige inwoners gewonder het waar dié reptiel vandaan kom.

Toe Belinda Pretorius die foto sien, het sy hom dadelik herken.

Vermiste ‘Slangkind’

Dit was die gesin se koringslang, wat tydens die April-skoolvakansie uit sy hok ontsnap het.

Ná dae se gesoek het die gesin uiteindelik moed opgegee. Belinda het aanvaar dat haar geliefde troetelreptiel dalk êrens ’n nuwe lewe in die natuur begin het.

Foto: Verskaf/Belinda Pretorius

Die reptiel het egter ander planne gehad.

Winter in die wild

Die koringslang het die hele winter op sy eie in die omgewing oorleef en ná maande weer by ’n inwoner se huis opgedaag. Koringslange is nie-giftige reptiele wat oorspronklik uit die VSA kom. Hulle oorleef hoofsaaklik van knaagdiere en is oor die algemeen rustig, juis daarom is hulle gewild onder reptielliefhebbers.

Hierdie slange het kenmerkende patrone in opvallende skakerings van rooi, oranje, bruin en geel. Belinda vertel dat “Slangkind” as baba by die gesin aangekom het nadat sy vorige eienaar hom nie meer kon versorg nie. Hy het intussen ’n volwaardige lid van die huishouding geword en is al byna een meter lank.

Hoe hy dit reggekry het om in die winter sonder sy verhitte hok te oorleef, verstom selfs vir Belinda.

“Kyk, hulle slaap mos maar in die winter. In die erf waar ek hom gevind het, was water en ek glo, ’n muis of twee. Daar was ook plante en skuiling – só het hy toe oorleef.” “In die somer kry die dier een keer ’n week kos, soms twee, afhangende van die grootte van die rot of muis wat ek vir hom kry.”

Belinda Pretorius, haar seun, Zihandré, en die gesin se ‘Slangkind’.
Foto: Verskaf/Belinda Pretorius

“Daarom bly dit steeds verbasend dat Slangkind lewe. Die slang se hok by die huis is immers verhit en ingerig soos dit moet wees.” vertel sy laggend.

“Hy is nes ’n kind in die huis,” sê sy.

Waar “Slangkind” presies die afgelope paar maande gebly het en wat hy alles aangevang het, bly ’n raaisel.

Gholfsig-inwoners met ’n fobie vir slange is beslis dankbaar dié kuiergas is weer snoesig terug in sy hok – dié keer met ’n slot!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Carmia Jansen van Vuuren

Carmia is an up-and-coming junior journalist at the Middelburg Observer. She has a burning passion for creative writing and poetry. She is a qualified language educator but fiercely enjoys the challenges that writing and reporting offer. Her focus spreads over different fields, including human interest, hard news, investigative reporting, and sports.
Back to top button