Vyfling op pad hierheen?
'n Nege en vyftigjarige vrou sê sy gaan 'n vyftienjarige familielid se vyfling aanneem "om die kinders in die familie te hou".
Die vrou, wat tans verkies om anoniem te bly, “omdat ons nog besig is met die aannemingsproses” het op Facebook vir hulp gevra vir bababenodigdhede vir ‘n vyfling.
In hul huis in Dennesig, wat sy en haar 66-jarige man met hul agt kinders, skoonkinders en kleinkinders deel, vertel sy opgewonde dat sy kans sien vir die vyf babas.
‘n Paar maande gelede het sy ook hulp op Facebook gevra toe hulle ‘n premature babaseuntjie wou aanneem.
Sy vertel dat die baba se ma, toe 14, die baba self probeer aborteer het, maar dat die baba bly leef het. Hy het egter hartprobleme ontwikkel en is vier maande later oorlede.
Kort daarna het hulle verneem dat die meisie wéér swanger is en dat sy ‘n tweeling verwag. Die vrou sê sy het wel aanvanklik op die Facebookblad gevra vir donasies vir die tweeling, maar dat hulle nadat ‘n sonar geneem is, gehoor het dat die meisie eintlik ‘n vyfling verwag.
“Die ma en ouma wil niks met die babas uit te waai hê nie en ek het gesê ek sal al vyf vat. Die mamma het hulle klaar afgeteken.”
Sy sê die babas, drie seuntjies en twee dogtertjies, word teen die einde van Maart verwag, wanneer hulle met ‘n keisersnit in die lewe gebring sal word.
Volgens die vrou gaan sy sodra die babas gebore word, in Pretoria by haar niggie, ‘n prokureur, tuisgaan vir sowat ‘n maand. Sy sê die rede daarvoor is om ‘n band te vorm met die babas in die hospitaal totdat hulle ontslaan kan word.
Sy verduidelik dat die prokureurniggie reeds begin het met reëlings vir die aanneming en met die welsyn in Pretoria onderhandel het.
Op die vraag of sy nie te oud is om vyf babas te hanteer nie, het sy gesê dat beide sy en haar man nog gesond is en hulle kans sien vir die uitdaging. Sy het ook gemeld dat haar kinders en kleinkinders met die babas sal help.
