News

‘My seun is vermoor!’

Die dood van Thorn Moore in die polisieselle het ou wonde vir die familie van 'n ander jong man, wat in soortgelyke omstandighede dood is, oopgekrap.

Moore is net meer as vier jaar na Billy Ludick dood. Daar word beweer dat beide in dieselfde polisieselle selfmoord gepleeg het.

Moore is op Vrydag, 20 Januarie, dood in die badkamer van die polisieselle gekry. Hy het voor sy dood vir sy sussie Tara, wat saam met hom op ‘n aanklag van huisbraak gearresteer is, gesê dat hy homself gaan hang, omdat hy dit nie sou oorleef as hy terug tronk toe gestuur word nie.

Hy het homself met sy broek se soom, wat hy uitgeskeer het, gehang aan die tralies voor die toiletvenster.

•In Oktober 2012 het ‘n soortgelyke tragedie hom in dieselfde selle afgespeel. Ludick, ‘n aantreklike jong man wat uitgeblink het in sport, sou twee weke na sy dood pa word. Anders as met Moore, was daar geen tekens dat hy sy eie lewe wou neem nie.

Vriende sê dat hulle nog glad nie vrede kon maak met die bewering dat Billy selfmoord gepleeg het nie. Hy wou alles in sy vermoë doen om skoon te kom en het tot vir familielede gevra om hom in ‘n kamer toe te sluit, om hom van die heroïen drang te speen.

Twee weke voor sy kind se geboorte is hy vir heroïen besit in Middelburg gearresteer, nadat sy vriendin se ma hom gaan verkla het. Kort daarna is hy dood in die badkamers van die polisieselle gekry.

Hy het homself glo met ‘n laken aan ‘n stortkop gehang, nadat hy om 01:00 vir polisielede gevra het vir spesiale vergunning om te gaan stort.

“Hulle sê hy het eers die laken om sy nek geknoop en toe gespring om dit om die stortknop te haak. Maar niks van sy dood maak sin nie. En die familie is te bang om vrae te vra. Mense wil mos nie eintlik teen die polisie gaan nie,” sê ‘n familie vriend.

Die persoon sê hy kan net nie dink dat Billy so kort voor sy seun se geboorte sy eie lewe sou neem nie.

“Hy was vreeslik opgewonde. Hy was ook bitter bang vir die dood en het aan geliefdes gesê dat hy nooit die moed bymekaar sou kon skraap om selfmoord te pleeg nie.”

Billy is ‘n week na sy dood begrawe, ‘n week later is sy seuntjie gebore. Sy pa, Banie, is tot vandag oortuig dat sy seun in die tronk vermoor is.

“Billy het nie selfmoord gepleeg nie, hy is vermoor.”

Hy sê dat daar baie dinge na sy seun se dood was wat nie vir hom sin gemaak het nie.

“Hulle het gesê dat as iemand homself hang, dan hang sy tong by sy mond uit. Dit was nie die geval met Billy nie.”

Dae na sy seun se dood, het mnr. Ludick ‘n anonieme oproep gekry. Die persoon het aan hom gesê dat Billy se nek per ongeluk gebreek het tydens ‘ondervraging’. Sy dood is daarna soos ‘n selfmoord laat lyk.

“Daar is ander goed, soos waar hy komberse of beddegoed gekry het om hom op te hang. As jy ‘n laken van ‘n bed af trek en in die badkamer instap daarmee, sal die polisieman wat die hek oopsluit seker sien? Iemand het vir my gesê hulle het nie eers beddegoed in die selle nie,” sê mnr. Ludick.

Die tyd van Billy se dood, 01:00, was ook vir hom snaaks.

“Billy was vreeslik bang vir pyn. Hy het altyd gesê dat hy nie weet hoe mense hulself kan skiet nie, want hulle moet tog in die split sekonde voor die koeël die brein tref, die pyn voel as dit deur die skedel gaan.

Hy het baie, as hy homself per ongeluk te veel dwelms gespuit het, sommer in die straat ingehardloop en geskree ‘Help my! Help my! Ek het ge-overdose! Ek wil nie doodgaan nie!’ Klink dit vir jou soos iemand wat homself dan sommer skielik sal doodmaak? Billy sou dit nie doen nie.”

dwelms2 (LL ZN)

Mnr. Ludick sê dat hy gerugte gehoor het dat daar ‘n spesifieke polisielid was wat met die dood van Billy en ‘n ander selfmoord later, in die selle aan diens was.

“Hulle het gesê hy het iets daarmee te doen omdat hy rof met die gevangenes werk. Maar hoe bewys mens dit? Jy kan nie, so dit bly maar ‘n spookstorie.”

Kapt. Khanyisile Zwane sê dat sy nog nie kommentaar oor Thorn Moore se dood kan lewer nie omdat dit steeds ondersoek word.

Sy sê dat Billy Ludick se geregtelike doodsondersoek in 2015 afgehandel is en het onderneem om die dossier onder oë te kry om vas te stel of daar enige verdagte omstandighede voorgekom het.

Sy sê dat indien daar verdagte omstandighede in die dossier is, daar automaties ‘n interne ondersoek geloods sou word.

Sy sê dat die polisie nie selfmoordgetalle in die selle bekend mag maak nie.

Lees ander nuus hier:

‘n Goddelike waarskuwing

A bloody weekend

Mans sê vrou is seksmal

Be careful where you point that drone!

Dogs poisoned to get to motorbikes

My Body My Space festival to enchant Highlands

Dramatiese video van sakeman se duin ongeluk

Businessmen accused of Billions in fraud

Suster roep tevergeefs na broer

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Check Also
Close
Back to top button