Gru-ongeluk: Vrou sterf, brandweerman ernstig beseer
'n Bekende brandweerman en sy lewensmaat was gisteraand in 'n ongeluk oppad huistoe.

Die bekende brandweer stasie-offisier, Frans Jooste (62) en sy lewensmaat, Petro du Toit (33) was laasnag in ’n ernstige ongeluk betrokke. Me. Du Toit is opslag dood in die ongeluk.
Me. Du Toit het tot kort voor 01:00 laasnag gewerk by Eat Some More in die industriële gebied en het mnr. Jooste haar met hul bromponie gaan oplaai. Die vermoede bestaan dat sy van daar af die bromponie bestuur het.
Hulle was in Zuidstraat in die rigting van die dorp op pad, toe ’n trok klaarblyklik ’n U-draai in die pad gemaak het.
Die bromponie het die wa van die trok getref en me. Du Toit is opslag dood.
Mnr. Jooste is met ernstige inwendige beserings in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal opgeneem.
• Sy seun, Frans (jnr) sê hy vermoed dat die trok oor die pad beweeg het om op die sypaadjie te klim, sodat die drywer die nag daar kon oornag.
• Me. Du Toit word oorleef deur mnr. Jooste, kinders Cornell (12), Chrissie (11) en Ansie (6) en haar ma, Chrissie Swart.
