Uitdagings kry Epilepsy sentrum nie onder
Talle uitdagings tenspyte van, kry niks die personeel en inwoners van die Epilepsy SA-sentrum op Dullstroom onder nie.
Op ’n lekker warm Dinsdagoggend (wat nie te baie op Dullstroom gebeur nie) gaan kuier ons by dié sentrum, wat in hul besige skedule met pasiënte tog tyd maak vir die joernalis.
Sr. Beryl Newman vertel van hul sentrum se werksaamhede terwyl sy van vertrek tot vertrek en gebou tot gebou stap.
By die ingang groet van die inwoners in rolstoele vriendelik, terwyl hulle met interessante kunsartikels besig is. Een van die inwoners hanteer ook die sekuriteit by die hek.
Sy loer gou by ’n kantoor in verduidelik dat een van die inwoners help om elke Dinsdag almal se pille in kleurgekodeerde pilhouers te pak. Al hul pille kom vanaf die apteek by die Middelburg Hospitaal “en alles is altyd op tyd vir ons gereed.”

Sr. Newman verduidelik dat hulle tans 79 inwoners het.
Die sentrum is hoofsaaklik net vir pasiënte met epilepsie, maar hulle het ook ’n paar gestremde persone wat inbly. Daar is selfs vier getroude paartjies, wat aan epilepsie ly, wat op die perseel bly.
Sy vertel opgewonde verskeie suksesverhale van hul inwoners. Een van hul inwoners, ’n dowe man, se epilepsie is onder beheer en is een van die sentrum se drywers.
So word elke inwoner voorgestel en wat sy werk is by die sentrum.

Pasiënte wat te erg gestremd is om ’n werkie te doen, word 24 uur per dag opgepas deur versorgers.
Af in die lang gang met sy blinkgevryfde vloer, gaan loer ons in by die kombuis, waar Ntombi Masilela en Winnie Mahlangu al klaar besig is om middagete te berei.
Vanaf die kombuis stap jy uit na een van die huise van die getroude paartjies.

Die bordjie wat aandui dat daar ’n groot werkswinkel is, het sy eie verhaal. Daar is nie meer vrywilligers wat die inwoners kan oplei om artikels te maak wat verkoop kan word nie.
Vroeër jare het hulle ’n goeie ekstra inkomste verdien uit projekte wat daar gedoen is.
Eenkant lê ’n groot hoop rolstoelparte en is die plan om ten minste twee rolstoele daaruit te bou. Hulle verduidelik dat hulle ’n dringende behoefte aan rolstoele het vir die gestremdes.
Die groentetuin onder die tonnels is baie gesond en ’n paar inwoners skoffel fluks die onkruid uit. ’n Groot stuk grond het hope potensiaal vir nog groenteverbouing, maar daarvoor het hulle nog tonnels nodig, omdat die groente sal vrek weens die koue.

By die direkteurskantoor word ons vriendelik ontvang deur me. Rebecca Mashigo. By haar in die kantoor is nog een van hul inwoners wat haar administratiewe werk hanteer.
Sy vertel trots hul interessante geskiedenis.
Die geboue waar hulle gehuisves word, was baie jare gelede ’n laerskool (Laerskool Dullstroom) en koshuis
Nadat die skool gesluit het, was dit ’n kort rukkie ’n ouetehuis, waarna Sanel, ’n tehuis vir persone wat aan epilepsie ly, begin is in 1979. Hulle staan die afgelope paar jaar bekend as Epilepsy SA, Mpumalangatak.

Me. Mashigo sê die sentrum het ook dagpasiënte by die sentrum.
Sy sê hulle sou graag die inwoners en dagpasiënte méér wou betaal vir hul dienste (hulle kry tans R50 per week) by die sentrum, maar daar is eenvoudig nie fondse beskikbaar nie.
Hul raadsvoorsitter, mnr. Stephen de Meyer, hanteer hul fondsinsamelingsprojekte en sê dat dit ’n uitdaging is, aangesien hul dorp nie baie groot is nie. Hulle is egter dankbaar vir elke skenking.
Me. Mashigo het genoem dat daar hierdie jaar gedurende Desember 50 inwoners (30 mans, 20 vroue) inbly, wat nie by families kan gaan kuier nie.
Daar word ’n beroep op mense gedoen om bydraes te lewer vir hul eenvoudige Kersfeeslysie: mans en vroueklere, toiletware, gordels vir mans, skoene, onderklere, tandepasta, Vaseline en speelgoed vir die gestremdes.
Sou mense van Middelburg artikels wil skenk, kan dit afgehaal word, want personeel kom gereeld deur om die inwoners se medikasie te kom haal.
Mense is welkom om hulle te besoek of om artikels af te gee. Vir meer inligting, bel me. Kate Cloete (sentrumbestuurder) by 013 254 0161.
Lees ook:
Dorp neem afskeid van geliefde polisievrou
Ouma is lus en vaar die strate in
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
