Friena groet met ‘n lag en ‘n traan
Me. Friena Scholtz het na 41 jaar in die onderwys, waarvan 31 jaar aan die Hoër Tegniese Skool, Maandagaand afskeid geneem van haar geliefde Rooies. Tussen trane deur het sy elkeen bedank wat ’n invloed op haar lewenspad gehad het.

Hier is haar besondere afskeidsboodskap:
“Ons dade, groot of klein, is soos klippies wat ons in die poel van die tyd gooi. Self verdwyn hulle, maar die sirkels op die water kring uit tot in ewigheid.
Na 41 jaar in die onderwys voel ek vandag betreklik klein oor my eie dade in die klas, op die sportveld, op kultuurterrein. Ek bely graag dat ek diep bewus is daarvan dat ek eintlik veel meer kon en moes gedoen het; dat ek hopeloos ver tekort skiet.
Ek wil regtig nie vanaand wroeg oor die seer klappe van die lewe wat ek hier ervaar het nie. Ek wil, eerder, graag stilstaan by ‘n paar hoogtepunte in die afgelope 31 jaar:
(Hier het sy begin met ’n paar staaltjies van leerlinge soos Werner Zwaan wat ’n gepaste beskrywende intensiewe vorm woord kon vind vir ’n vis nie en sommer besluit het op ’n “spartelvars vis!).
Op ’aand soos vanaand is ek diep bewus van ander mense se dade, klippies in die poel van tyd, waarvan die sirkels op die water my lewe onteenseglik en ryklik beïnvloed het. Daarvoor is ek eindeloos dankbaar! Op my beskeie manier wil ek dus vanaand graag hulde bring aan mense wat my lewe gerig en gestuur het.
Ek wou, na skool, glad nie gaan studeer nie. Ek en my liewe pa het ‘n onverkwiklike konflik beleef omdat ek, in my dwaasheid, op 18 gedink het ek sal die res van my lewe in die weermag gelukkig wees. Trou aan sy aard het hy geluister, en my kort en bondig stilgemaak. Ek sou studeer. Ek sou ‘n BA met tale doen! Basta!
Nodeloos om te sê: hy was reg! Afrikaans-Nederlands en Duits het gou ‘n maatjie in Frans bygekry, en die ander passie van my lewe, naamlik Geskiedenis, het gou Afrikaans-Nederlandse Kultuurgeskiedenis by prof Piet Nel geword. ‘n Kosbare voorreg!
Toe ek aan die einde van die BA begin wonder wat ek met die taal en kultuur wou doen, was dit weer my pa wat voorgestel het dat ek ‘n onderwyskwalifikasie kry … En weer was hy reg! Want eintlik is dit al wat ek wou en steeds wil doen!

Aan my pa en liewe ma, wat my die liefde vir die woord, en die Woord, vir geskiedenis en kultuur, vir musiek en uitdagings geleer het, my grootste hulde!
By Hoërskool Frikkie Meyer, waar ek in 1977 begin skoolhou het, het die hoof, mnr. PR Steyn, my onmiddellik Gr 12-klasse gegee. Hy het bloot gesê: jy vat die klasse!
Ek het nagte deurgewerk om voorbereid te wees. Maar daardie opdrag en onwrikbare vertroue het my geleer dat ‘n mens nooit te jonk is vir ‘n taak, vir werk nie.
Ek het geleer dat jy nooit gereed is vir ‘n taak nie, maar dat die taak self én die ywer waarmee jy op so ‘n uitdaging reageer jou gereed maak vir die taak! Ek moes in my eerste skooljaar die redenaars hanteer, hekkies afrig, by atletiekbyeenkomste die hekkies skuif, die drilpeloton afrig en, les bes, die matriekafskeid aanbied … óp die swembad se water.
Ek weet nie meer hoe ek dit gedoen het nie, maar ek onthou dit het nie gereën nie en dit was ontsaglik mooi.
Mnr. Steyn was ‘n mentor, ‘n leier, ‘n onderwysman by uitnemendheid – een mens aan wie ek vanaand graag sou wou dankie sê. Wat ek van skoolhou weet, het hy my geleer.
Na 10 jaar se skoolhou by vier verskillende skole het ek en Willie, met twee klein seuntjies in April 1987 in Mdb aangekom – al agter Willie se bevorderingsposte aan.
Ek het by oom Pottie aangeklop en was so gelukkig toe hy my in Selma van Wyk, wat swanger was, se plek aanstel. Ek sou vier maande in Kamer 20 skoolhou, maar is intussen in ‘n departementele pos aangestel.
Toe Selma terugkom, het ek ‘n pos gehad, maar nie werk nie … gelukkig vir my het dieselfde Selma se pos oopgegaan en so kon ek deel word van die Rooi Skool.
By oom Pottie het ek geleer hoe belangrik tegniese onderwys is; ek het geleer hoe nood-saaklik opleiding in tegniese vakke vir die toekoms van die land is. Hy het male sonder tal beklemtoon dat ambagslui die toekoms van die land sal bepaal. Daarom hoef niemand wat by ‘n tegniese skool opleiding kry, terug te staan vir iemand anders nie! Daarom my hulde ook, op hierdie aand, aan mnr. JFW Potgieter.
By hierdie skool het ek geleer dat werk ‘n mens se heel eerste prioriteit is – en alles anders kom tweede. Gevolglik kon my kinders woorde soos “verversinkies” en “vergaderings” sê nog voor hulle kon sê “asseblief” of “dankie”!
Maar ons het nie net gewerk nie – ons was ‘n groot groep personeel wat die skool hartstogtelik liefgehad het en daarom die skool met blinde lojaliteit gedien het. Dit het kosbare vriendskappe en onskatbare herinneringe tot gevolg gehad:
Ek en Leonie du Preez en Ansie van der Walt, wat onsself die “Three stooges” genoem het saam in die Afrikaans Departement was vriende van Tukkies se dae af. Hier het ‘n diepe en innige vriendskap ontwikkel.
Vienie Reis: van laerskooldae in Thabazimbi af die pad saamgeloop; kosbaar om weer by ons skool die vriendskap te kon voortsit.
Rina Bezuidenhout was die beste Wiskunde-onderwyseres, wat toe ‘n Biologie-onnie geword het, ook die beste, wat ‘n skrif uit haar klas kon lanseer tot op die grond in die ou blok.
Elize van Vollenhoven, saam met wie ons diep getreur en baie gehuil het oor die onverklaarbare ingryp van die dood. Hoe sal ek ooit vergeet met hoveel presisie sy die skool se geldsake hanteer het!?
Annemarie Alberts, toevallig ook ‘n uitstekende Wiskunde onnie, wat nie vir die duiwel stuit nie. As sy iets uitgedink het, kán dit op die verhoog gedoen word! Sy skrik nie vir uitdagings nie! By haar het ek geleer dat enigiets moontlik is, want waar ‘n wil is, is ‘n weg.
Ek onthou hoe ons hier in Buks Pretorius se kombuis ‘n halfmiljoen hoenderdye ontbeen het vir oom Pottie se afskeid. Het Hanlie Koekemoer ons dit laat doen?
Julle is die mense wat deel is van ‘n era by hierdie skool wat onherroeplik verby is, maar die herinneringe leef helder in my gees en ek wil julle dankbaar huldig vir die uitdeinende rimpels wat julle betrokkenheid in my lewe veroorsaak. Ek dink ook met groot waardering vanaand aan tannie Marie en Helen, saam met wie ons baie pret beleef het!
Ander hoofde het oom Pottie opgevolg. Ander personeel het hier kom wortelskiet en deel van my eie menswees geword:
Renéé, Klein Vroutjie/Pollie/Pollina saam met wie ek sjerrie agter in die bus kon drink op pad na van Wyk Louw se grootwordplaas naby Sutherland; ‘n vrou sonder wie geen span ‘n revue kan aanpak nie.
Buitengewoon bekwaam in haar vak en ‘n kosbare vriendin! Vir jou het ek my eie kinders net die grootste waardering en bewondering en liefde.
Hantie Wiesner, wat ek toe-oë saamneem wanneer ek ooit moet oorlog toe gaan, want haar lojaliteit kry jy nie in hierdie wêreld nie
Hendrik, omdat jy my hart ken hoef ek niks meer vir jou te sê nie.
Danie en stoute Sakkie Meyer wat ek hier by die skool gekry het, julle is uniek!
Oudleerlinge het kom aansluit en in eie reg gegroei tot magtige bome wat vir ander skadu verskaf: Rozanne met haar verantwoordelikheidsin, Tertia met haar aanvoeling vir skoonheid, Corni met die sagte hart vir seer kinders, Cobus met sy passie vir dit wat reg is!
Ek dink ook aan Bia, Liza en Coené – oudleerlinge wie se harte bloedrooi is en wat hier kom raakvat en vasvat omdat hulle weet wat belangrik is!
Dames en Here, elke kollega maak ‘n merk op die lewenswater. Elkeen van u verteenwoordig ‘n klippie wat rimpelings op my lewenswater veroorsaak, en ek dank u daarvoor. Ek bring hulde aan u vir u werk, u invloed, u bydrae om vir kinders ‘n toekoms te skep. Bo alles sê ek dankie vir u ongelooflike bydrae in my lewe.

Ek wil graag die admin dames, elkeen van julle, en die faktotums, elkeen van julle, uitsonder vir julle geduld en liefde, julle toewyding, julle entoesiasme vir die skool. Dankie aan een en elk van julle wat daagliks vir my klippe uit die pad gerol het, help reël het, inisiatief geneem het en sommer soms, waar nodig, self die leisels gevat het.
Antonette, jou waarde is ver bo korale; jy is goud. Dankie vir die waarde wat jy tot my lewe toevoeg. Jou vriendskap en die feit dat jy my baie dae gedra het, is ononderhandelbaar kosbaar!
Lissette, jou aansteeklike entoesiasme vir elke taak wat uitgevoer moet word, is merkwaardig! Dankie dat ek in die afgelope twee jaar so naby aan jou kon leef en werk! Jy is vir die skool eindeloos baie werd.
Carolien, vir al die tikwerk, veral in die jare toe ek vir die bekroning verantwoordelik was, nogmaals dankie. Werk is vir jou nooit ‘n probleem nie. Dis ‘n wonderlike eienskap.
Amanda, jy is vir baie van ons, maar veral vir my, ‘n linker- en regterhand, dikwels ook ‘n kop wat goed onthou en vooruit beplan. Daar was talle dae dat jy selfs ook my voete was. Dankie dat jy selfloos gee sonder om ooit iets terug te verwag!
Duon en Blackie, julle is van ‘n buitengewone stoffasie! Dankie vir al die ligte, hekke, verfwerk, teëls, badkamers, toiletsitplekke, funksies, kragopwekker, stoele wat julle moes aanry, wegry, terugry en vervang.
Ek bring graag hulde aan elke kollega, elke administratiewe dame, elke faktotum wat oor die afgelope 31 jaar op hierdie plek so ‘n groot verskil maak.
Hoofde van ander skole wat hier teenwoordig is: dankie vir u bydrae in my lewe. Dankie vir raad en leiding, vir omgee, vir kosbare insette wat aan my lewe ‘n verskil gemaak het.
Dear Mrs Reddy, I want to thank you for your contribution: thank you for your professional guidance, for believing in me; thank you for being more than a district manager … thank you for being my friend.
My kinders: Pieter, Chris, Willie,
Dankie dat julle my vir al die jare toegelaat het om my passie en liefde uit te leef.
Dankie dat julle my toegelaat het om julle ma te wees terwyl ek eintlik in diens van die skool was!
Dankie vir julle onwrikbare geloof in julle ma.
Dankie dat julle dikwels julle eie potjie moes krap sodat ek my lewe kon leef.
Dankie dat julle soveel keer beskikbaar was om my te help: werk, tafels dek, revue afrig, koffie aandra, ja selfs nasien! Julle is die rede vir elke dag se opstaan, vasstaan, sterkstaan! Julle is die rede vir en motivering om aanhou en uithou.
Liewe Inge, jy is nie ‘n skoondogter nie – jy is meer as ‘n dogter vir my. Dankie vir jou hulp en ondersteuning, aanmoediging en lojaliteit teenoor die Rooi Skool! Dankie vir jou liefde en begrip. Dankie dat jy my soveel keer staande hou sonder om vrae te vra. Jou menswees is vir my kosbaar.
Kaylee, jy is nou lank genoeg deel van ons gesin om te weet hoe NB die skool vir my is – dankie dat jy dit aanvaar en my ondersteun. Jy is ook ‘n kosbare toevoeging tot ons gesin.
Drikus en Divas, Ouma hoop die Rooi Skool is, eendag wanneer julle moet skool toe kom, steeds beter as die beste en dat die Rooi Skool en die Rooi Bulle altyd julle keuse sal bly.
My liewe man, Willie.
Vandat ons in Middelburg is, het jy ons huweliksherdenking alleen saam met die kinders gevier, omdat ek altyd nagesien het. Dankie vir al die lieflike geskenke en blomme wat jy saam met Hantie na die nasiensentrum toe gestuur het.
Dankie dat jy altyd ‘n manier gekry het om met Renéé te konkel om my te verras.
Bo alles, dankie dat jy altyd beskikbaar was om my te help. Dat jy alles waarmee jy besig was, gelos het om my onmiddellik te help.
Dankie dat jy my toegelaat het om in eie reg te groei in my vak en in my klas. Dankie vir jou motivering en aanmoediging. Dankie vir die baie kere dat jy my moes optel na teleurstellings en seer klappe van die lewe.
Dankie vir jou begrip en geduld, vir al die kere dat jy alleen funksies van jou eie skool moes bywoon, ook vir al die pasteitjies en persentjies wat jy in die afgelope jare vir my skool of vir mense namens my moes koop sodat ek net rustig kon voortgaan met my werk.
Dankie vir jou onvoorwaardelike liefde – en vir die honderde dae en nagte wat jy alleen moes bly terwyl ek by DBE gewerk het … Ek vermoed dis hoekom jy so dierbaar was om ook al die duisternis vorms met betrekking tot die aftrede te voltooi.
Jy is enig van jou soort. Jy is my anker en rots. Baie dankie.
Dankie vir hierdie baie spesiale funksie vanaand, mnr. Van Jaarsveldt, Alta, Celeste, Lindi, Renéé en almal wat julle gehelp het. Vir julle moeite en omgee, vir die harde werk wat in so ‘n funksie ingaan, maar veral vir die gesindheid.
Dankie vir hierdie kosbare skildery, en vir die kas -waaroor ek mateloos opgewonde is!
Steyn en Laurike, baie dankie vir julle mooi woorde. Julle is kosbaar!
My hartswens vir my skool?
Dat die skool ’n sentrum van akademiese uitnemendheid sal wees en toenemend word.
Dat die personeel sal groei in kennis en ervaring sodat elkeen van u leiers in u vakgebied en vakrigting sal wees en toenemend word.
Dat u uitnemende vormingswerk, boetsering sal doen aan en met die klei wat aan u toevertrou word.
Dat daar inderdaad vir elke kind ‘n sonnige, gelukkige plekkie in hierdie skool sal wees waar hy/sy kan gedy, kan ontwikkel, kan volwassenheid bereik met die toerusting om ‘n verskil in die wêreld te maak.
Dat Afrikaans steeds onbeskaamd u hartskeuse sal wees en bly, sodat hierdie skool ‘n baken van lig en hoop kan wees vir baie geslagte wat kom.
Dat hierdie skool sal voortgaan om in diens te staan van die Goeie Herder wat ons die opdrag gegee het: “Laat my skape wei.”
Other News:
Hawks members sent to jail for fraud
WATCH: The Place of Refuge – Once a vibrant village, now a ghost town
WATCH: Robbery caught on video, police looking for suspects
Three counts of poaching in one week – and the toll keeps rising
Want breaking news on the go?
• Save our standby number (072 248 3855) and send us a WhatsApp message with the words “Add me” to be added to our broadcast list.
• Like us on Facebook, follow us on Twitter and Instagram.
• Subscribe to our YouTube channel.
• Click on the link to subscribe to our bi-weekly newsletter via email.
Have a news tip?
Contact our news room on our 24 hr standby number 072 248 3855, or send a mail to our editor tobie@mobserver.co.za
