Spinnekopbyte baie erg dié jaar
Daar is al tientalle mense die afgelope maand deur spinnekoppe in die Middelburg omgewing gebyt!
Mnr. Victor Boshoff (voorsitter, Middelburg Herpetologiese Vereniging) sê die meeste byte is geïdentifiseer as sakspinnekoppe, ’n spinnekop wat algemeen in Middelburg voorkom.
In die laaste vier maande is verskeie mense deur giftige spinnekoppe soos die viooltjiespinnekop gebyt.
Mnr. Boshoff sê as iemand gebyt is deur ’n spinnekop, moet hulle die wond afneem en dit vir hom WhatsApp na 082 697 9954 of 083 628 4902 sodat hy kan identifiseer watter tipe spinnekop die persoon gebyt het en watter behandeling toegepas moet word.
Mense moet daarop let dat ’n spinnekopbyt se wond nié oopgemaak moet word nie, anders versprei die gif en veroorsaak verdere weefselskade.
Daar moet ook nie daaraan gedruk word nie, al maak dit ’n knop of ’n blaas.

Hulle moet verder beslis nie die “raad” volg om berokside daarop te gooi “sodat dit kan uitkook nie.”
Hy sê berokside veroorsaak verdere weefselskade.
Sy raad is dat die persoon dadelik hulp kry sodra hy die bytwond geïdentifiseer het en dit n giftige spinnekop is.
•Die tipiese behandeling is om die wond skoon te hou met lou, afgekoelde kookwater met sout of Engelse sout daarin. Die wond kan selfs in ‘n bak met dié water gehou word.
Dan moet daar dadelik Supiroban salf, wat sommer oor die rakke by apteke beskikbaar is, opgesit word.
As die apteek toe is, sit dadelik rou heuning op die bytplek. Gerasperde aartappel wat op die wond gesit en toegemaak word vir ses ure, kan ook wondere verrig.
In die geval van ‘n giftige spinnekopbyt sal hy die persoon aanbeveel om antibiotika by ‘n dokter te kry.

•Middelburg het drie giftige spinnekoppe.
*Die viooltjiespinnekop se gif is neuro- en sitotoksies, wat beteken dat dit die senuweestelsel en weefsel aanval. In die meeste gevalle begin dit soos ‘n puisie, word vrot en kan ‘n gat inval as daarmee gepeuter word.
*Die sakspinnekop se byt veroorsaak erge blase.
Hierdie spinnekop kan met die wind in jou lakens en klerasie op die wasgoedlyn beland, waar hy ‘n klein kokon spin en vir maande bly.
As jy dan tussen die lakens inklim of jou klere aantrek, word jy gebyt.
Erge sekondêre infeksies en wonde kan veroorsaak word as die blase oopgemaak word.
*Die knopiespinnekop (ook ‘Black Widow’ genoem), is erg giftig (neurotoksies) en is die enigste spinnekop waarvoor ‘n mens dadelik antiserum moet kry.
Mnr. Boshoff sê as ‘n kind of bejaarde of selfs persone met chroniese siektes deur ‘n viooltjie- of knopiespinnekop gebyt word, kan hulle sterf as hulle nie behandeling kry nie.
•Mnr. Boshoff het die afgelope jaar al meer as 700 spinnekopbyte regoor die land geïdentifiseer. Hy word selfs uit ander lande soos Beijing gevra om byte via WhatsApp te identifiseer.
Lees ook:
Dorp neem afskeid van geliefde polisievrou
Ouma is lus en vaar die strate in
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
