News

Groot swart bal, wat soos spookasem lyk, nadat weerlig hengelaars tref

“’n Groot swart bal, wat soos spookasem gelyk het, het van die waterkant aangesweef gekom en op die gras geval.” So het ’n kampeerder die gebeure beskryf na weerlig twee hengelaars by Forever Loskopdam raakgeslaan het.

Die twee vriende het ernstige beserings opgedoen nadat die weerlig Saterdag die een se Graphite visstok by Loskopdam getref het.

Mnr. Jaco le Roux (35) was vandag (Maandag) op pad na die Kosmos Life Hospitaal waar dokters vir die gesin sou sê wat sy mediese uitgawes beloop. Hy het erge brandwonde op sy maag opgedoen, waar die weerlig ’n diep gat laag op sy buik gemaak het.

Sy ma, Mariaan, sê hulle het Saterdag van Johannesburg af direk na die Life Midmed Hospitaal gejaag, om hul seun by te staan, wat met ER24 Ambulansdienste vanaf Loskopdam afgevoer is.

Mnr. Clinton Fleming (29) is tans nog in die intensiewe eenheid van Midmed Hospitaal. Sy vrou, Charné, sê die geweldige skok van die weerlig het ’n komplikasie op sy hart veroorsaak. Sy gaan hom na ’n kardioloog neem “net om seker te maak alles is reg.”

Die traumatiese gebeure het plaasgevind voor die geskokte oë van beide paartjies se kinders en ander mense langs die hengelwaters.
Volgens Desiree, Jaco se vrou, was hulle saam met Clinton hulle vir die dag na Forever Resorts Loskopdam.

Jaco le Roux moet verskeie operasies ondergaan om weefsel op sy maag te laat verwyder waar hy brandwonde opgedoen het.

 

Hulle het gesien dat die weer opsteek van agter die berg en besluit om op te pak en sommer met hul terugkeer na Middelburg tuis te braai.

Dit het skielik begin reën en die mans het hul stokke inkatrol. Jaco het ’n vis aan die lyn gehad en Clinton het vir hom gesê hy moet gou die vis inkatrol, terwyl hy die visnet gaan haal.
Clinton het nog langs hom gestaan toe die weerlig die punt van die visstok raakslaan.

Me. Le Roux vertel dat sy gesien het hoe die weerlig die visstok raakslaan “daarna in twee split en Jaco en Clinton tref.”

Me. Fleming sê sy het net ’n harde klapgeluid gehoor soos ’n ontploffing, ’n wit lig “en gesien hoe die twee mans val. Ek het gedink hulle is dood.”

Clinton Fleming by die dam.

Die stok in Jaco se hande het binne sekondes tot garing verbrand, die klere aan sy lyf het afgebrand en waar die stok teen sy laer buik was, is ’n gapende wond oopgeruk.

Mense in die omgewing het gesê dat daar “rook uit die mans gekom het.” Me. Fleming sê sy glo egter die rook was afkomstig uit die visstok wat aan die brand geslaan het.
In die daaropvolgende paar sekondes was dit chaos.

Me. Fleming sê “alles was deurmekaar. Die wind het gewaai, ons kinders het geskree en ons mans het op die grond gelê.”
Sy het met hul negemaande oue baba, Dylon, op die arm gestaan en hy en haar ander kinders, Megan (3) en Michael (9) het erg gehuil. “Megan het gesê: ’Pappa is deur die generator raakgeslaan!”

Die Le Roux’s se dogtertjies, Deoné (7) en Elmike (10) het ook begin huil.

Mnr. en me. Jaco en Desiree le Roux saam met hul dogtertjies,. Me. Le Roux en hul kinders het gesien wat gebeur.

 

Me. Fleming sê haar man was vir ’n paar sekondes deurmekaar en kon nie sy bene voel nie. Hy het na ’n rukkie handeviervoet probeer opstaan en vir sy vrou gesê om die kinders te vat en in die kar te klim, omdat hy bang was die weerlig slaan hulle ook raak. “Binne tien minute was die reënweer egter verby.”

Kampeerders, sekuriteitswagte en personeel van Forever Resorts Loskopdam, het hulp verleen en die twee mans gemaklik gemaak. Daar is ook ’n kombers gegooi oor mnr. Le Roux.
Paramedici van ER24 (Middelburg) en Swift EMS (van Groblersdal) was vinnig op die toneel en het die twee mans na die Life Midmed Hospitaal afgevoer.

•Mnr. Le Roux, wat nie ’n mediese fonds het nie, is nadat sy wonde verbind is, dieselfde aand huis toe. Sy familie sê hy sal talle operasies moet ondergaan om dooie weefsel te verwyder en rekonstruktiewe werk aan sy maag te doen. Dit kan etlike duisende rande beloop.
Mnr. Fleming is kort na opname in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal opgeneem.

•Mnr. Le Roux se skoonsuster, Corlene Vogel, het vanuit Musina ’n noodfonds begin om die gesin by te staan met mediese uitgawes.
Persone wat bydraes wil lewer, kan Desiree bel by 072 617 9958 vir meer inligting.

’n Paar van die persone wat Jaco en Clinton gehelp het. Die persoon wat die foto geneem het, het nie hul name gevat nie, maar die twee mans en hul gesinne wil graag dié barmhartige samaritane van harte bedank.

•Beide die mans het al die persone wat hulle op die toneel bygestaan het, asook die paramedici wat gehelp het, bedank.
“Dit is God se genade dat hulle vir ons gespaar is,” het me. Fleming dankbaar gesê.

•Mnr. Hennie Joubert het Maandag aan www.mobserver.co.za vertel dat hy en sy gesin vir die eerste keer in hul lewe gekamp het by Forever Resorts Loskopdam.
Hy het na die gebeure op Facebook vertel dat daar donderweer was “maar niks ernstig nie. Die volgende oomblik was daar ’n ongelooflike donderslag ek en vroulief het gewip van die skrik.” Mnr. Joubert het gesê dat daar onmiddellik na die slag ’n groot swart bal, “wat soos spookasem gelyk het van die waterkant na ons karavaan toe aangesweef gekom en by ons op die gras kom val.”

Volgens hom het die “weerlig hulle so erg getref dat die rook uit hulle gekom het. Die visstok het gedisintegreer en hulle was gestroop van hulle klere. Die swart spookasem was blykbaar een van hul visstokke!”

 

 

Lees ook:

 

Nuwe tierbaba by Mbidi

Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk

Annica van Staden slagoffers verloor duisende

VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button