Inbrekers verblind kinders met pepersproei tydens Kanonkop inbraak
Inbrekers het drie kinders, waaronder ’n vyf maande oue baba, met pepersproei gespuit tydens ’n inbraak by ’n huis in Kanonkop.
Na die Naka Drotske-aanval blyk dit nou ’n nuwe neiging onder aanvallers te wees om hulle slagoffers te verblind.
Wat vreemd is, is dat niks gesteel is nie en dat die inwoners van die huis, ’n groot groep Somaliërs en Ethiopiërs, nie sake wou maak toe die polisie daar aankom nie.
Hul buurvrou, me. Marisa Bosman, sê hulle is omstreeks 02:30 gewek met die gegil van ’n vrou. “Dit was verskriklike gille. Sy het aanmekaar ‘Help!’ geskree!”
Haar man, Izak, het opgespring om te gaan kyk wat aangaan en me. Bosman het haar kamer se gordyn oopgepluk.
Digby haar venster het twee boewe gestaan. Beide het swart sweetpakke aangehand en die baadjies se kappies was laag oor hul koppe getrek.
Me. Bosman het vir haar kinders gegil dat haar man nie na buite moet gaan nie, maar hy was reeds uit by die deur, waarop nóg twee swart geklede booswigte by hom verby gehardloop het.
Me. Bosman het gesien hoe die twee naby haar venster weghardloop, net vastrap en bo-oor ’n ses voet muur spring. “Hulle het nie eers met hul hande vashouplek gesoek nie!”

Bure van oraloor het intussen alarmbesighede, noodgroepe en die polisie gekontak.
Met die polisie se aankoms het hulle aanmekaar geroep by die hek van die huis in Elandstraat (Kanonkop) vanwaar die gille gekom het. Eers na ’n lang ruk het iemand uitgekom en vir die polisie vertel dat daar by hul ingebreek is
Die inbrekers het ’n venster se diefwering afgebreek en daarna die veiligheidshek. Vandaar het die boewe van kamer tot kamer beweeg en almal in die kamers met pepersproei gespuit.
Nadat die vrou gegil het, het die inbrekers gevlug.
“Daar was omtrent 20 mense in die huis!”
Mnr. Zizilika Chufamo (’n Ethiopiëer) het gesê hy vermoed dat die booswigte ingebreek het vir kontant.
Hy het ’n winkel in die dorp.
Die kinders het geweldig gehuil weens die pepersproei, maar die inwoners het geweier dat paramedici hulle behandel. Hulle wou ook nie ’n saak maak nie.
Mnr. Chufamo het Woensdag aangedui dat hy wel ’n klagte by die polisie gaan lê.
•Daar was sowat 15 mense by die huis met die koerant se aankoms, maar volgens mnr. Chufamo was dit net familie en vriende wat hulle kom besoek het om te kyk of alles reg is.
•Niks is tydens die inbraak gesteel nie.
•Tydens die aanval op die gewese Bok haker, Drotske, en Os du Randt, Bok voorry, op ’n kleinhoewe naby Pretoria is hulle ook met traangas in die oë gespuit.
Lees ook:
Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk
Annica van Staden slagoffers verloor duisende
VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
