News

Ouers het verhouding met polisie kaptein nie goedgekeur

Die ouers van die jong vrou wat Sondagaand in Kranspoort dood is, het nie die verhouding goedgekeur met kaptein Awie Geldenhuys saam met wie sy was tydens haar dood nie.

Maryka Kleinhans (31) het op die toneel gesterf. Daar is gesê dat sy uit ’n bewegende voertuig gespring het.

“Hoekom is ons weggehou van die toneel af? Hoekom het hulle ons nie laat weet sy is dood nie? Hoekom moes mense uit Lydenburg ons dogter Maandagoggend kontak en simpatiseer en het ons nog nie eers van haar dood geweet nie! Iets maak net nie sin nie!”

Wat vir hulle “die hartseerste is, is dat Awie Geldenhuys ons nie eers gebel het nie! Hy het ons nommer gehad!” Kapt. Geldenhuys is ’n polisieman in eMalahleni.

Dit was maar net ’n paar van die talle vrae wat mnr. en me. Johan en Petro Bezuidenhout vanoggend gevra het, kort voordat hulle na Middelburg vertrek het om hul dogter se oorskot te kom haal.

Mnr. en me. Bezuidenhout sê hulle is Maandag, nadat hulle van haar afsterwe verneem het, na Middelburg waar hulle by die lykshuis meegedeel is dat die lykskouing sowat ’n uur gaan neem. “Ons het meer as ses ure by die kantore gesit en wag terwyl die lykskouing gedoen is.”

Mnr. Bezuidenhout sê dat ’n polisielid vir hulle gesê het “hulle vermoed dat vuilspel betrokke kan wees.”
Hulle vrae spruit juis voort uit die feit dat niemand hulle die aand van hul kind se dood in kennis gestel het nie.

Lees ook: Bekende polisiekaptein op toneel waar vrou langs pad gesterf het

“Awie het van die toneel af sy broer gebel en vir hom gesê hy moet na die toneel toe kom. Sy broer bly twee blokke van ons af. Hy kon ons net opgelaai het. Ek kon haar dalk nog warm op die toneel gesien het. Nou moes ek haar tussen ander mense in die lykshuis gaan uitken. Dit was verskriklik!” het haar pa gebroke gesê.

Me. Bezuidenhout sê dat kaptein Geldenhuys, nadat hulle hom eers omstreeks middernag Maandag kon opspoor, vir hulle gesê het dat Maryka op die agterste sitplek gesit het.
Maryka en kapt. Geldenhuys was vir die dag na Loskopdam en het later die aand teruggekeer.

“Hy het vir ons gesê dat hulle ’n klein argument gehad het en dat sy agter in die voertuig gesit het. Dit is baie onwaarskynlik dat ons kind agter sou gesit het, want sy word, soos ek, altyd karsiek as sy agter sit,” het me. Bezuidenhout gesê.
Dit slaan hulle ook dronk oor waarom sy uit die kar sou gespring het.

“Awie het ook vir ons gesê dat ’n ander kar byna oor haar gery het, terwyl hy besig was om haar by te bring.”

Kapt. Awie Geldenhuys.

Die egpaar sê hulle het nooit vir kapt. Geldenhuys ontmoet nie en hul dogter net twee keer saam met hom sien ry. Hulle het egter geweet dat hulle die laaste drie maande in ’n verhouding was.

Hulle het nie die verhouding goedgekeur nie en wou ook nie dat hul driejarige kleindogter saamgaan as Maryka by hom gaan kuier nie.
Mnr. Bezuidenhout sê hy wil net die waarheid weet oor hoe sy dogter dood is.

“Moet ons nou bang wees die dossier raak weg?”

•Hulle is Maandag in kennis gestel dat die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat die saak ondersoek.

•Maryka was ’n professionele haarkapster en het nog tot Desember by “Die Ark” Haarkappers in Lydenburg gewerk.

•Sy word oorleef deur haar ouers, ’n suster, ’n broer en ’n driejarige kind.

•Maryka sou op 8 Februarie ’n staatsgetuie gewees het in ’n saak teen ’n ene Vic Welgemoed, wat onder andere aangekla word vir hom voordoen as ’n polisiebeampte en talle ander klagtes.

Www.mobserver.co.za het kapt. Geldenhuys gebel, maar hy het die foon doodgedruk toe hy hoor wie praat. Daar is ook ’n WhatsApp boodskap vir hom gestuur, maar hy het nie daarop gereageer nie.

 

 

 

Lees ook:

 

Nuwe tierbaba by Mbidi

Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk

Annica van Staden slagoffers verloor duisende

VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button