Kaptein voorheen van aanranding beskuldig
Gaan die dood van ’n jong vrou Sondag in Kranspoortpas deeglik ondersoek word? So het ’n vrou gevra nadat sy en haar man na bewering slagoffers van kaptein Awie Geldenhuys was.
Die vrou (wat verkies om anoniem te bly) was ontsteld toe sy verneem dat kapt. Geldenhuys op die toneel was waar Maryka Kleinhans (31) gesterf het. Daar is gesê dat Maryka uit ’n bewegende voertuig gespring het in Kranspoortpas.
Die vrou het ’n klagte van aanranding teen kapt. Geldenhuys aanhanging gemaak in 2015 na ’n voorval in Amazon’s Restaurant waar haar man beserings aan sy hande en arms opgedoen het. Daar het ook bloed by sy oor uitgekom.
Lees ook: Bekende polisiekaptein op toneel waar vrou langs pad gesterf het
Sy het videomateriaal vir die polisie gegee van die gebeure, maar daar is gesê dat hulle nie die videomateriaal “kon oopkry nie”.
Kapt. Geldenhuys het na bewering by hul tafel opgedaag en gesê het dat haar man hom R2 miljoen skuld. Die egpaar was uit die veld geslaan.
Een van die mans het kort daarna weer dreigend met haar man begin praat en op die videomateriaal kon mens sien dat haar man beduie dat hy nie moeilikheid wil hê nie.
Die man het egter sy bril van sy gesig afgehaal, vingerwysend ’n argument uitgelok en hom byna van sy voete afgestamp. Die vrou het haar man probeer help deur die skoorsoeker met ’n glas te gooi.
Lees ook: Ouers het verhouding met polisie kaptein nie goedgekeur
Die aggressor het haar man egter met die vuiste getakel, waarop ander mans opgedaag het om die geveg te probeer stop.
Die vrou sê kapt. Geldenhuys het haar man se hande vasgegryp en vasgehou dat die aanvaller hom aanhou slaan. Sy het ’n stoel gegryp en tussen hulle probeer ingooi om die geveg te stop, “maar die stoel het op kapt. Geldenhuys te lande gekom.” Kort hierna is die geveg deur die eienaar van die restaurant gestop.
Sy het destyds gesê dat kapt. Geldenhuys geskree het “dat hy ’n polisieman is, dat hy ons adres op enige plek kan kan kry en dat hy nie bang is om ’n vrou te slaan nie. Hy het ook geweldig gevloek en geskel.”
Lees ook: Storm om Kaptein se kop kring uit
Die paartjie het later gesien dat kapt. Geldenhuys en een van die aggressors buite in hul voertuig sit en hulle het besluit om nog ’n rukkie binne te bly totdat hulle vertrek.
Terwyl hulle nog gesit en wag het, het hul foon skielik gelui en het ’n persoon vir hulle gesê: “Ek kom vir jou!” ’n Teksboodskap het gevolg wat gesê het: “ek v…k jou op. Jou dae is getel.”
Nadat hulle gesien het die voertuig vertrek, het hulle ’n saak by die polisiestasie gaan open.
“Ek het destyds elke week die speurders gebel en navraag gedoen. Later het hulle net vir my gesê die saak is uit die hof uit gegooi.”
•Kapt. Geldenhuys se kommentaar destyds oor dié voorval was dat hy vegtende mans uitmekaar probeer haal het en dat die vrou hom toe met die stoel geslaan het.
Hy het in 2016 aangedui dat hy ’n klagte teen die vrou gaan lê het, “omdat ons haar nou eers opgespoor het.” Dit is nie duidelik wat van die saak geword het nie en die vrou is ook nooit aangekla nie.
•Lees in hierdie week se Middelburg Observer meer oor Maryka Kleinhans se dood en vorige klagtes oor kapt. Awie Geldenhuys.
Lees ook:
Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk
Annica van Staden slagoffers verloor duisende
VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
