News

Man doodgeskok op dak

’n Agtjarige seuntjie het die trillings van elektrisiteit deurstaan om tot by sy pa te kom wat doodgeskok is.

Mnr. Danie Henning (33) is Saterdag doodgeskok op sy dak in Suidstraat (Groenkol) terwyl hy hul DsTV skottel wou regmaak.

Sy vrou, Natasha, sê sy weet nie hoekom sy en die kinders nie ook geskok is nie, want sy en haar seuntjie het later tot by hom gekruip. Hulle het wel die trillings van die elektrisiteit gevoel en haar dogtertjie is ook geskok toe sy aan ’n leer vat.

Me. Henning sê hulle is nie seker presies hoe laat haar man oorlede is nie, aangesien sy hom eers omstreeks 15:00 op die dak gekry het.

Hy was omstreeks 09:00 by haar werk (Studio 27) en gesê dat hy ’n seintoetser by ’n vriend gaan haal, hul DsTv skottel gaan regmaak en dan gaan lê, omdat hy nie lekker gevoel het nie.
Dit was die laaste keer wat sy met hom gepraat het.

Die toneel Saterdag waar mnr. Danie Henning op sy dak doodgeskok is.

“Ek het hom nie gebel nie, want ek het gedink hy het gaan lê, omdat hy sleg voel.”

Me. Henning het kort voor 15:00 tuisgekom en gesien die leer staan teen die muur wat na die dak lei.
Sy het haar man begin roep, maar hy nie nie geantwoord nie en sy het in die huis verder gaan soek.

Hul kinders, die sewejarige Danie en agtjarige Danisha, het intussen gevra of hulle kan gaan swem.

Me. Henning het skielik duiselig gevoel en het besluit om op die bed te gaan lê. Terwyl sy gelê het, het sy besluit om haar man se vriend te bel om te hoor hoe laat hy daar was.
“Ek het op daardie stadium gedink hy het gou saam met iemand gery.”

Danie (jnr) het skielik by die kamer ingehardloop gekom en vir haar gesê: “Pappa lê op die dak en slaap!”
Me. Henning is dadelik na buite, waar sy teen die leer opgeklim het, met klein Danie agterna.

Die oomblik toe sy by die bopunt van die leer kom en aan die dak raak, het sy ’n geweldige elektriese ruk gevoel, maar het haar man gesien lê ’n klein entjie verder en besluit om tot by hom te kruip.

Nog voordat sy kon keer, het klein Danie agter haar opgeklim en huilend die elektriese trillings trotseer.
“Ek wou nie hê hy moes sy pa so sien nie, maar dit was te laat. Hy het hom reeds gesien.”

Volgens me. Henning lyk dit na aanleiding van ’n merk op die DsTv paal of haar man ook daaraan gevat het. “Die elektrisiteit is by sy tone uit.”

Me. Henning sê sy kon sien haar man is al ’n geruime tyd dood en het vir haar seuntjie gesê dat hulle moet afklim dat hulle kan gaan hulp soek.

Op hierdie tydstip het Danisha, wat op die grond gestaan het, geweldig begin huil. “Sy is geskok die oomblik toe sy aan die leer vat.”
Me. Henning sê sy en klein Danie het ook die elektriese skokke gevoel soos hulle nader gekruip het na die leer toe.

“Ek verstaan nie dat Danie dood is nie. Ek en my kind is ook geskok, maar ons is nie ersntig beseer nie. Ons moes dan ook dood gewees het.”
Sy vermoed dat hy enige tyd tussen 10:00 en 15:00 gesterf het, aangesien daar niemand anders saam met hom tuis was nie.

Me. Henning het haar man beskryf as ’n stil persoon wat altyd alles wou doen vir sy familie. “Dit is hoekom hy op die dak geklim het om die DsTv reg te kry.” Die gesin het gedurende Desembermaand by dié huis ingetrek.

Hulle gaan later vandag begrafnisreëlings tref.

•Sy het aangedui dat hulle nog wag vir ’n lykskouingsverslag en het ook gemeld dat die munisipaliteit ’n ondersoek gaan doen oor wat die oorsaak kan wees van die elektriese skok.

•Die gesinsfoto op me. Henning se Facebookblad is geneem in haar studio vir Kersfees. “Min het ek geweet dit sal ons laaste gesinsfoto ooit saam wees.”

 

 

Lees ook:

 

Nuwe tierbaba by Mbidi

Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk

Annica van Staden slagoffers verloor duisende

VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button