Gewonde ma vertel van skietnagmerrie
“Soos mens praat, voel dit asof dit nooit gebeur het nie. Maar dit kom en gaan in flitse, sekere goedjies wat dit aktiveer.” Dit was die woorde van Renske Erasmus (31) wat uit haar hospitaalbed vertel hoe sy en haar vriend Vrydagaand geskiet is.

Christo Mulder sit met hulle pas gebore seun naby haar op ’n bankie.
Al sou hulle so iets nie eers vir hulle grootste vyand toewens nie, voel hulle tog hulle het ’n “persentjie” by gekry.
Kleine Fourie is ’n maand te vroeg gebore, en onder vreesbevange omstandighede, maar hy weeg 3,6 kg, en is reeds ’n klein vegtertjie.
Vir hulle, is sy lewe ’n wonderwerk van Bo af. Hy is twee keer byna dood.
Lees ook: Swanger vrou en haar man geskiet naby N4 tolhek
Renske was swanger toe sy een keer deur die arm en ’n tweede keer in die rug geskiet is. Die projektiel het haar nier geskraap, en tot ruste gekom reg teen haar werwels. Die dokters was nie eers bewus dat haar baarmoeder geskeur het nie…toe breek haar water. Fourie se koppie was buite die baarmoeder toe die dokter hom vang. Dis ’n kwessie van sekondes en sentimeters en nie een van die drie sou vandag gelewe het nie.
Hulle vertel hoe hulle op pad was na Delmas toe, hulle het ’n grondpad gery so 50 meter van die Middelburg tolhek af, en gestop om ’n plaashek oop te maak, toe drie of vier gewapende mans op hulle toesak.
Mnr. Mulder vertel hoe instink ingeskop het, en hoe hy outomaties begin veg het vir sy en sy familie se lewe.

“Ek het hulle vertel ek soek niks. Hulle kan alles vat, ek soek net my kinders.” Die een het nog ingestem toe die ander een net begin skiet het.
Renske het intussen by die bestuurskant ingespring om die deure te sluit. Toe die aanvaller nie die deure kon oopkry nie, het hy net geskiet.
Sy het nog gewag vir Christo om terug na die bakkie te kom, maar toe sy sien dit gaan nie gebeur nie, jaag sy met hulle drie dogtertjies deur die hek na die tolhek toe.
Sy het by verkeersbeamptes gestop en vir hulle van die voorval vertel, maar hulle het haar net verstom aangekyk en nie reageer nie.
Renske het gesmeek dat hulle vir Christo moet gaan haal, en vertel dat hy ook gewond was, maar hy het self aangestap gekom.
Lees ook: Pregnant gunshot victim gives birth to son with bullet still lodged in her back
Hy het teen daardie tyd nog nie besef hy was self gewond nie.
Christo is twee keer deur die lies geskiet.

Hy het vir die verkeersbeamptes gevra of ’n ambulans op pad was, maar hulle kon nie sê hoe ver dit was nie. Hy het toe in die bakkie gespring, en hulle self hospitaal toe gejaag.
Na Renske se noodkeisersnee, het die dokters besluit hulle gaan nie die projektiel uit haar rug verwyder nie. Hulle gaan dit los en monitor om te sien of dit skuif. Sy weet nog nie wanneer sy ontslaan word nie, maar Christo en kleine Fourie is reeds gesond genoeg verklaar, en waak by Renske se bed.
Christo en Renske is altwee vol lof oor hoe die personeel by Life Midmed Hospitaal hulle ontvang het.
Met kalmte het hulle die twee behandel vir hulle skietwonde, en die drie huilende dogtertjies versorg.
Hulle wil graag vir elke mens wie betrokke was bedank. As hulle almal op naam kon noem, sou hulle, maar vir nou wil hulle graag die personeel by Midmed, die Middelburg SAPS, die plaaspatrollie lede wie betrokke was by die soektog, vriende en familie, bedank vir hulle ondersteuning.
Lees ook:
Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk
Annica van Staden slagoffers verloor duisende
VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
